Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 25 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mchunu verwelkom Operasie Shanela se reuse-sukses met wetstoepassingspogings
# ‘n Nuwe wending in die saak van twee Amerikaanse broers wat 30-jaar tronkstraf uitgedien het vir moord op hulle ouers
# En, krieket: Rishabh Pant word die duurste speler in die IPL-geskiedenis
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, het die uitslae geloof wat Operasie Shanela opgelewer het, met 262-duisend-396 inhegtenisnemings en sewe-duisend-549 operasies wat uitgevoer is. Mchunu sê openbare orde-wetgewing het gelei tot twee-duisend-756 inhegtenisnemings en groot beslagleggings, insluitend op vervalste goedere ter waarde van 22,2-miljoen-rand. Die grenspolisie-eenheid het ses-duisend-610 mense aangekeer en beslag gelê op dwelms en gesteelde voertuie ter waarde van meer as 564-miljoen-rand. Mchunu doen ‘n beroep vir samewerking tussen agentskappe om die operasie te versterk:
Die DA in die Wes-Kaap het intussen die behoefte aan volgehoue optrede teen geslagsgeweld beklemtoon aan die begin van 16 dae van Aktivisme. Die DA se provinsiale woordvoerder oor Maatskaplike Ontwikkeling, Wendy Kaizer-Philander, vra spesifieke maatreëls, ondersteuning aan oorlewendes en versterkte wetstoepassing landwyd. Sy beklemtoon die provinsie se belegging in veilige hawens en gemeenskapsvennootskappe, en moedig alle sektore aan om volgehoue ingrypings voorop te stel om vroue en kinders te beskerm:
# Die Padverkeersbestuurskorporasie moedig motoriste aan om voertuiglisensies wat verval te hernu, met 624-duisend-333 skyfies wat aan die einde van November verval, en nog ‘n miljoen teen Desember. Die Wes-Kaap loop voor met 152-duisend-531 wat verval. Die korporasie moedig reisigers aan om seker te maak hulle voertuie is padwaardig en het ‘n geldige lisensie. Daarby moet vragoperateurs verseker bestuurders is fiks en dat voertuie aan die reëls voldoen. Motoriste word gevra om reise versigtig te beplan, en roetes, die weer en padbouwerk na te gaan.
# Die Amerikaanse broers Lyle en Erik Menendez kan vrygelaat word nadat hulle meer as 30 jaar agter tralies deurgebring het vir die moord op hul ouers. Die broers sal vandag per videoskakel in die hof verskyn om die volgende stappe in hul saak te bespreek, nadat Los Angeles se distriksaanklaer ingestem het om die saak weer te ondersoek. Lede van die Menendez-familie het ‘n openbare pleidooi gerig vir die broers se vrylating. Hulle beweer hulle pa het hulle blootgestel aan gewelddadige seksuele misbruik. Die familie meen die broers is nie ‘n gevaar vir die samelewing nie.
# Krieket: Die Indiese paaltjiewagter, Rishabh Pant, het die duurste speler in die geskiedenis van die Indiese Premierliga geword. Dit volg nadat Lucknow Super Giants 57,7-mijoen-rand vir die dienste van die linkerhandse kolwer betaal het vir volgende jaar se gewilde T20-kompetisie. Dit verbeter die rekord van 52,9-miljoen-rand wat Kolkata Knight Riders verlede jaar in die Australiese snelbouler, Mitchell Starc, belê het. Die Protea-bouler, Kagiso Rabada, is aan Gujarat Titans verkoop vir 23-miljoen-rand en David Miller vir 16-miljoen-rand aan Lucknow.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-3-sent teen die dollar, 18-rand-95-sent teen die euro en 22-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-398-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-684-dollar-9-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….