Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 13 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kabinet veroordeel toenemende misdaad en steun die optrede teen onwettige mynbou
# Kommer oor vervalste diabetesmedikasie
# En inskrywings open vir die 98ste Comrades-marathon
# Die kabinet veroordeel die stygende misdaadsyfer en is ten volle ten gunste van optrede teen onwettige mynbou. Die regering loof ook suksesvolle polisie-optrede in Noordwes wat gelei het tot die inhegtenisneming van meer as ‘n duisend onwettige mynwerkers. Volgens die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshaveni, is die regering daartoe verbind om met sterker wetstoepassing en strenger maatreëls op te tree om onwettige mynbou te beperk, wat bydra tot die toename in misdadige bedrywighede:
# Die Wes-Kaapse regering het sterk ekonomiese veerkragtigheid aangeteken, met die provinsie se ekonomie wat beter presteer as nasionale neigings. Dit bevorder werkskepping en bestendigheid. Statistieke SA se jongste kwartaallikse arbeidsmagopname dui aan 75-duisend werksgeleenthede is tussen Julie en September geskep en die provinsie se werkloosheidskoers is op ‘n nasionale laagtepunt van 19,6-persent. Die premier, Alan Winde, gee erkenning aan projekte soos die rompslomp-verminderingseenheid en die versterkingsfonds om klein ondernemings te help floreer:
# Die Vervoerseta, TETA, het die Vragmotor-padveiligheidsprojek van stapel gestuur in ‘n poging om padongelukke te verminder. Die veldtog duur in Mpumalanga tot volgende Woensdag en is gemik op padveiligheidsbewusmaking in die feestyd. Die owerheid se uitvoerende bestuurder van korporatiewe dienste, Kgatile Nkala sê die veldtog sal veral fokus op die opvoeding van vragmotorbestuurders en die publiek.
# Die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte is verontrus oor vervalste diabetesmedikasie. Daar is ‘n toename in veral GLP-1-produkte, soos Ozempic, wat deur ongemagtigde plekke verkoop word. Die owerheid se woordvoerder, Madimetja Mashishi, sê hierdie vervalste medisyne hou ernstige gesondheidsgevare in omdat daar geen gehaltebeheer is nie. Hy raai die publiek aan om slegs geregistreerde produkte te koop:
# Padwedlope: Inskrywings is oop vir volgende jaar se 98ste Comrades-marathon in KwaZulu-Natal. Dit is ‘n af-wedloop oor ongeveer 89-kilometer vanaf Pietermaritzburg na Durban op 8 Junie. Volgens die organiseerders lok die wedloop gewoonlik atlete van meer as 70 lande. Drie-en-twintig duisend deelnemers sal volgende jaar aanvaar word. Inskrywingsgeld vir Suid-Afrikaners is een-duisend-200-rand, vir die res van Afrika twee-duisend-rand en vir buitelanders vier-duisend-500-rand. Inskrywings sluit die negende van volgende maand of wanneer die maksimum getal bereik word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-1-sent teen die dollar, 19-rand-14-sent teen die euro en 22-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-919-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-608-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 68-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….