Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Nersa publiseer Eskom se voorgestelde tariefveranderings vir openbare raadpleging
# Die Stad Johannesburg eis dat Eskom sy kennisgewing oor kragonderbrekings terugtrek
# En Eben Etzebeth is kaptein van die Bokke in Sondag se toets teen Skotland
# Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika het Eskom se voorgestelde veranderings aan elektrisiteitstariewe vir openbare hersiening gepubliseer. Hierdie veranderings het ten doel om pryse billiker te maak deur dit in ooreenstemming te bring met die werklike koste van opwekking, transmissie en verspreiding. Sleutelvoorstelle sluit in die verwydering van die skerp pryseverskille vir tuisgebruikers, die aanbied van krediete vir sonkrag en die aanpassing van koste vir groot nywerhede en munisipaliteite. Eskom sê die herstrukturering sal nie ekstra inkomste tot gevolg hê nie, maar die ware koste van elektrisiteitsdienste beter weerspieël.
Die Stad Johannesburg gee Eskom intussen vyf dae om ‘n kennisgewing terug te trek wat met kragonderbrekings dreig oor ‘n beweerde geskiedkundige skuld van 4,9-miljard-rand en huidige skuld van 1,4-miljard-rand. Die stad betwis Eskom se rekening en beweer daar is oordebitering wat tans deur die hof hersien word. News24 berig die finansiële hoof, Tebogo Moraka, sê die die stad sal regstappe doen indien Eskom sou weier om die kennisgewing terug te trek. Hy sê hulle wil opbouend onderhandel om inwoners te beskerm en betroubaar krag voorsien te midde van toenemende finansiële spanning met Eskom.
# Die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad en belanghebbende groepe sal raadplegingsgesprekke voer oor die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette. Die uitvoerende hoof, Lance Schultz, het aan Newzroom Afrika verduidelik hoe belangrik die raad se verbintenis tot die beskerming van moedertaalonderrig is, en die voorkoming van taalgebaseerde uitsluiting beklemtoon. Hy sê die raad sal bemiddel oor taalregte en voorspraak maak vir tweetalige onderwys om Suid-Afrika se uiteenlopende, veeltalige samelewing te ondersteun:
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement waarsku instellings om nie geskeduleerde medikasie sonder ‘n lisensie aan inwoners te verkoop nie. Die departement se woordvoerder, Motalatale Modiba, sê volgens wet word slegs gelisensieerde apteke en geregistreerde gesondheidsorgberoepslui gemagtig om medisyne in Suid-Afrika te verkoop of voor te skryf. Hy voeg by die onwettige verkoop van geskeduleerde medikasie is ‘n openbare gesondheidsrisiko:
# Rugby: Die Springbok-losvoorspeler Kwagga Smith speel Sondag sy 50ste toets wanneer die Springbokke Skotland op Murrayfield aandurf. Die slotte Franco Mostert en RG Snyman keer terug ná ‘n lang afwesigheid weens beserings. Afrigter Rassie Erasmus het Eben Etzebeth as kaptein aangewys met Siya Kolisi wat op die bank begin. Daar is sewe voorspelers en een agterspeler op die bank. Elf veranderinge is aangebring aan die opdrafspan wat Argentinië in September in hul laaste wedstryd van die Rugbykampioenskap verslaan het. Jaden Hendrikse begin op skrumskakel met Handré Pollard as losskakel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-53-sent teen die dollar, 18-rand-88-sent teen die euro en 22-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-114-dollar-36-sent. Die prys van goud is twee-duisend-691-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….