Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 6 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Donald Trump se oorwinning kan beteken daar is nie meer Amerikaanse steun vir Oekraïne in sy oorlog met Rusland nie
# Emmanuel Macron vra Europa om saam te staan na Trump se verkiesing
# En, krieket: 91 Suid-Afrikaners registreer vir die IPL-veiling
# Donald Trump se herverkiesing as die 47ste Amerikaanse president, kan beteken Oekraïne sal binnekort ‘n vermindering in Amerikaanse steun ervaar wat ‘n beslissende uitwerking op die oorlog met Rusland kan hê. Trump en sy verkiesingsmaat, JD Vance, het dwarsdeur sy veldtog sterk twyfel uitgespreek oor die voortgesette Amerikaanse verbintenis tot Kiëf. Trump het ook daarop gesinspeel die VSA kan druk op Oekraïne plaas om ‘n ongemaklike wapenstilstand met Rusland te aanvaar. Die Oekraïnse president, Volodymyr Zelensky, het Trump vroeër gelukgewens en gesê hy waardeer sy verbintenis tot vrede deur krag.
Die Franse president, Emmanuel Macron, sê intussen hy en Duitsland se kanselier, Olaf Scholz, gaan hulle bewyer vir ‘n meer verenigde, sterker en soewereine Europa nadat Trump gewen het. Talle lande in die Europese Unie was skrikkerig oor die vooruitsig omdat Trump gedreig het om NAVO om te keer, ‘n vinnige ooreenkoms met Rusland aan te gaan oor sy inval in Oekraïne, en moontlike handelstariewe. Macron het weer beklemtoon dat Europese lande moet saamstaan. Hy sê dit kan nie ‘n geval van elkeen vir homself of bilaterale verhoudinge wees nie, maar eerder ‘n gekoördineerde Europese strategie.
# Omgewingsgroepe, insluitend die Green Connection en Extinction Rebellion, doen ‘n beroep op die regering om op te hou om tydens Afrika-energieweek in Kaapstad vennootskappe te smee met fossielbrandstofmaatskappye. Hulle voer aan die hoë koste van die geleentheid sluit die burgerlike samelewing uit in belangrike besprekings wat fokus op olie- en gasbeleggings. Die Green Connection se woordvoerder, Lisa Makaula, sê hulle beplan om buite die perseel te betoog en vra volhoubare ontwikkeling en beskerming vir vissersgemeenskappe wat deur fossielbrandstofprojekte geraak word:
# Krieket: Suid-Afrika is die land met die tweede meeste aantal spelers in die veiling vir volgende jaar se Indiese Premierliga. Indië het een-duisend-165 spelers geregistreer en Suid-Afrika 91. Onder die beskikbare Suid-Afrikaners is Quinton de Kock, Faf du Plessis en Aiden Markram. ‘n Verrassende weglating tussen die een-duisend-574 name is die Engelse kaptein, Ben Stokes. Die IPL gaan die lys verkort nadat hy oorleg geplee het met die tien klubs. Die veiling vind later die maand in Djedda, Saoedi-Arabië, plaas.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-70-sent teen die dollar, 18-rand-96-sent teen die euro en 22-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-283-dollar-40-sent. Die prys van goud is twee-duisend-678-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-38-sent per vat.
# En ten slotte: Die voormalige president van Botswana, Ian Khama, het sy uittrede uit die politiek aangekondig ná uitgebreide veldtogte tydens die onlangse verkiesings. Khama was die medestigter van die Botswana Patriotic Front nadat hy en die gewese president, Mokgweetsi Masisi, se paaie geskei het. Khama het aan die SABC gesê hy beplan om as hoofman te dien. Hy het die inkomende president, Duma Boko, verwelkom en beklemtoon die uitdaging om Botswana se ekonomie bestendig te maak:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….