Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 1 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Gautengse Departement van Gesondheid begin met ‘n veldtog om die styging in tienerswangerskappe in Tembisa aan te spreek
# ‘n Polisiesersant in Limpopo is vasgetrek vir die moord op sy vrou en ‘n huiswerker
# En, sokker: Alle kaartjies is uitverkoop vir die Knockout-kwarteindstryd tussen Chiefs en Sundowns
# Die Departement van Gesondheid in Gauteng het met ‘n veldtog begin oor die toename van tienerswangerskappe in Tembisa, waar meer as ses-duisend gevalle in Ekurhuleni alleen aangemeld is. Die woordvoerder van die departement, Motalatale Modiba, sê die doel met die veldtog is om gesonde leefstylkeuses te bevorder en tienerswangerskappe te voorkom, aangesien die provinsie meer as 24-duisend gevalle onder meisies tussen tien en 19 jaar aangeteken het:
# ‘n Vier-en-veertigjarige polisiesersant is gearresteer nadat hy na bewering sy vrou en huishulp by hulle huis in Masisi in die Vhembe-distrik in Limpopo vermoor het. Hy was sedert Dinsdag voortvlugtig. Die polisiewoordvoerder, Hlulani Mashaba, sê die sersant is aangekeer ná ʼn skietery met die polisie waarin twee beamptes gewond is. Hy sê die man sal aangekla word van moord en poging tot moord:
# Standard Bank het onlangs transaksies in Brasilië geblok ná ‘n toename in bedrog wat Suid-Afrikaanse kliënte raak. Hierdie maatreël, wat geneem is nadat bedrieglike bedrywighede aan Brasiliaanse transaksies gekoppel is, volg omdat die bank jaarliks reeds meer as een-miljard-rand aan kuberveiligheid bestee. Die bank sê hierdie syfer sal waarskynlik toeneem namate misdadigers gebruik maak van kunsmatige intelligensie om hul gewenste uitkomste te bereik. Die bank poog om sekerheid te verbeter namate kuberbedreigings al hoe meer gesofistikeerd word, met die klem op proaktiewe waarskuwings en kliëntebeskerming.
# Libanon se eerste minister, Najib Mikati, het Israel beskuldig van die verwerping van ‘n wapenstilstand, nadat die Israelse weermag die Hezbollah-vesting in die suide van Beiroet hierdie week vir die eerste keer gebombardeer het. Minstens tien aanvalle het die suidelike voorstede voor dagbreek getref nadat die Israeliese weermag ontruimingswaarskuwings uitgereik het. Die aanvalle het gebeur ‘n dag nadat die Israelse premier, Benjamin Netanyahu, met Amerikaanse amptenare ‘n moontlike ooreenkoms bespreek het om die oorlog in Libanon te beëindig voor die Amerikaanse presidentsverkiesing Dinsdag.
# Sokker: Sowat 94-duisend ondersteuners sal na verwagting môre in die FNB-stadion na die Carling Knockout-kwarteindstryd tussen Kaizer Chiefs en Mamelodi Sundowns stroom. Alle kaartjies is verkoop. Die Premier Sokkerliga bevestig ook hekke sal om drie-uur open sodat ondersteuners vroeg kan opdaag vir die wedstryd wat om ses-uur begin. Die Amakhosi het in hulle laaste wedstryd vandeesweek gelykop gespeel teen Magesi in Polokwane. Die Brasiliane is vol selfvertroue na ’n sege van 3-0 oor Cape Town City op Loftus.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-55-sent teen die dollar, 19-rand-9-sent teen die euro en 22-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-267-dollar-60-sent. Die prys van goud is twee-duisend-760-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….