Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Finansies kondig vordering aan met Eskom se skuldverligtingsplan vir munisipaliteite
# Die EFF beweer besparingsmaatreëls word aangewend om staatskuld te beperk
# En Tiger Brands bied aan om dringende mediese rekeninge te vereffen van slagoffers van die listeriose-uitbreking
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het vordering aangekondig met Eskom se skuldverligtingsplan, waarin 70 munisipaliteite nou goedgekeur is vir verligting. Die voldoening aan programvoorwaardes het sedert Maart van 55- tot 76-persent verbeter, met die ondersteuning van die Nasionale Tesourie en provinsiale finansiële spanne. Godongwana het in sy minibegroting ‘n beroep op staatsdepartemente gedoen om hul skuld te betaal en munisipaliteite te help om dienste voort te sit en aan Eskom- en Waterrade-betalings te voldoen:
Die leier van die EFF, Julius Malema, sê intussen die regering gebruik besuinigingsmaatreëls om sy skuld aan bande te lê en waarsku dit sal armoede en werkloosheid vererger. Hy het buite die Parlement Godongwana se minibegroting gekritiseer en gesê dit bevat geen duidelike plan om Suid-Afrikaners se lewens te verbeter nie. Malema beskuldig ook die regering daarvan dat hy voorkeur gee aan privatisering sonder duidelike strategieë om werkloosheid of misdaad aan te pak. Hy sê dit skrik beleggers af:
# Tiger Brands het aangebied om dringende mediese rekeninge te vereffen van kwalifiserende slagoffers na die listeriose-uitbreking in 2017. Dit volg te midde van voortgesette litigasie oor skadevergoeding, wat op 1,5- tot 2,5-miljard-rand geraam word. Ten spyte van hangende uitkomste oor aanspreeklikheid, onderhandel Tiger Brands met die regsverteenwoordigers van meer as ‘n duisend slagoffers en hoop om die groepsgeding spoedig op te los. Voorbereidings vir die hofsaak duur voort.
# Donald Trump en Kamala Harris begin vandag die laaste week van die veldtog vir die Amerikaanse presidentskap met ‘n koorsagtige toer deur die swaaistate. Harris begin in Noord-Carolina en reis dan na Pennsilvanië, twee van sewe slagveldstate wat die wenner kan bepaal. Noord-Carolina het sedert Barack Obama in 2008 nog nie weer vir ‘n Demokratiese president gestem nie. Trump sal vandag in dieselfde staat wees. Hy beplan ‘n tweede saamtrek in nog ‘n swaaistaat, Wisconsin, in die Middeweste.
# Krieket: Die Nieu-Seelandse kolwer Kane Williams gaan die derde toets teen Indië in Moembai misloop ter voorbereiding vir die tuisreeks van drie toetse teen Engeland. Sy liesbesering het hom uit die eerste twee toetse teen Indië gehou, wat die Swartpette albei gewen het. Die eerste toets teen Engeland begin op 28 November in Christchurch, en afrigter Gary Stead sê hy wil seker maak die voorslag-kolwer is 100-persent fiks. Die derde toets teen Indië begin Vrydag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-69-sent teen die dollar, 19-rand-13-sent teen die euro en 22-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-816-dollar-44-sent. Die prys van goud is twee-duisend-781-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….