Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 25 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die voormalige Openbare Beskermer en die gewese ANC-veteraan Willis Mchunu kry provinsiale rolle in die MK-party
# Die DA vra volhoubare wetstoepassings-hervorming met massa-skietvoorvalle wat toeneem
# En, sokker: Banyana Banyana speel vanaand teen Denemarke in ‘n geskiedkundige internasionale kragmeting
# Die MK-party het die voormalige Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane, en die gewese ANC-veteraan, Willies Mchunu, as provinsiale sameroepers aangestel in onderskeidelik Mpumalanga en KwaZulu-Natal. Mkhwebane se oorgang na die party volg nadat sy verlede week bedank het by die EFF, kort nadat Mchunu die ANC verlaat het. MK se sekretaris-generaal, Sifiso Maseko, het op ‘n nuuskonferensie gesê Mkhwebane sal die sleutelkwessies in Mpumalanga aanpak en Mchunu se politieke ervaring sal help om die party se teenwoordigheid in KwaZulu-Natal te versterk:
# Die DA het verontwaardiging uitgespreek oor onlangse massaskietvoorvalle in Kaapstad waarin talle mense gesterf het. Die woordvoerder, Ian Cameron, kritiseer die reaksie van die Suid-Afrikaanse Polisiediens en sê die ontplooiing van meer amptenare sal nie die onderliggende kwessies oplos nie. Hy bepleit gedeelde wetstoepassingsverantwoordelikhede tussen nasionale, provinsiale en plaaslike owerhede om doeltreffendheid te verbeter en bendegeweld doeltreffend aan te pak:
# Die vermeende verkragter en moordenaar, Pethe Sara Simiao, het in die Landdroshof in Protea, Soweto, verskyn na die dood van die sesjarige Amantle Semane. Inwoners het haar liggaam in ‘n hut in Orlando-Oos gevind. Simiao is Woensdag in Zola in hegtenis geneem en staan tereg op vier aanklagte, insluitend moord en ontvoering. Die saak is tot 1 November uitgestel vir ’n borgtogaansoek.
# Sokker: Die Afrika-kampioene, Banyana Banyana, pak Denemarke vanaand om 6-uur in hulle heel eerste internasionale wedstryd in die Aalborg-stadion. Die vriendskaplike kragmeting word beskou as belangrike voorbereiding vir die kwalifiseerders van die 2025 Afrikabeker vir Vroue. Hulle speel ook Dinsdag teen Engeland. Afrigter Desiree Ellis beklemtoon die belangrikheid daarvan om ervaring op te doen, ten spyte van die afwesigheid van sommige spelers weens probleme met visums:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-59-sent teen die dollar, 19-rand-6-sent teen die euro en 22-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-98-dollar-39-sent. Die prys van goud is twee-duisend-725-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-5-sent per vat.
# En ten slotte: Reik na ‘n Droom stel agt nuwe Droomkamers bekend in hospitale regoor die land. Hulle sê hierdie vrolike ruimtes bied kinders ‘n speelse ontsnaproete van die uitdagings van langtermynbehandeling, sodat hulle weer die vreugdes van kindwees kan herontdek. Hospitale, insluitend Tygerberg in Kaapstad, Steve Biko in Tshwane en Charlotte Maxeke in Johannesburg, sal hierdie genesingsruimtes teen einde vanjaar huisves, wat die totale aantal Droomkamers landwyd op 46 te staan bring.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….