Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa vra BRICS om hervorming van die VN-Veiligheidsraad te versterk en globale vrede te handhaaf
# Krieket: Bangladesj het ‘n voorsprong van 81 lopies ná die derde dag van die eerste toets teen die Proteas
# En Gautengse huishoudings skuld munisipaliteite byna 100-miljard-rand
# President Cyril Ramaphosa het tydens die 16de BRICS-beraad in Kazan, Rusland, gevra vir sterker globale samewerking en die hervorming van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad. Hy het BRICS-lande aangemoedig om vrede en ontwikkeling te bevorder en het sy steun vir Palestynse regte uitgespreek. Ramaphosa sê die huidige struktuur kon nie daarin slaag om die wêreldgemeenskap se belange te verteenwoordig nie en was ondoeltreffend in die handhawing van internasionale vrede en veiligheid:
# COSATU het die daling in verbruikersinflasie van 4,4-persent tot 3,8-persent verwelkom en sê dit bied verligting aan sukkelende werkers. Matthew Parks van COSATU doen ‘n beroep op die Suid-Afrikaanse Reserwebank om die terugkoopkoers met minstens 50 basispunte te verlaag om die skuldlas te verlig. Hy vra ook staatsingryping om Eskom bestendig te kry en brandstofpryse te verlaag:
# Twee mense is dood toe ‘n boot met migrante in die Engelse Kanaal gesink het. Volgens Franse maritieme owerhede het die voorval vanoggend aan die kus van Sangatte, naby Calais, plaasgevind. Ongeveer 50 migrante het volgens berigte sowat twee-kilometer van die kus naby Calais in die water beland. Minstens 46 mense is gered terwyl die owerhede na nog oorlewendes soek. Vanjaar is die dodelikste ooit vir vaarte oor die kanaal, met meer as 50 mense wat tot dusver dood is.
# Krieket: Bangladesj het ‘n voorsprong van 81 lopies ná die derde dag van die eerste toets teen Suid-Afrika in Mirpur. Die gashere het ‘n eerstebeurt-agterstand van 202 lopies gehad, maar Mehidy Hasan Miraz het vasgeskop met ‘n onoorwonne 87, terwyl Jaker Ali 58 lopies bygedra het en Mahmudal Hasan Joy 40. Bangladesj hervat môre hul tweede beurt op 283 vir sewe nadat Kagiso Rabada vier paaltjies laat kantel het en Keshav Maharaj drie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-73-sent teen die dollar, 19-rand-10-sent teen die euro en 22-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-418-dollar-65-sent. Die prys van goud is twee-duisend-738-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-3-sent per vat.
# En ten slotte: Gautengse huishoudings skuld munisipaliteite byna 100-miljard-rand. Volgens die LUR vir Finansies, Lebogang Maile, het munisipaliteite vanaf Julie te kampe met uitstaande skuld ter waarde van 132-miljard-rand vanaf huishoudings, regeringsinstellings en ondernemings. Hy sê huishoudings is verantwoordelik vir 99-miljard-rand, terwyl privaat ondernemings 27-miljard-rand skuld en staatsinstellings net meer as drie-miljard-rand. Hy het tydens ‘n plaaslike regeringsberaad in Muldersdrift beklemtoon munisipaliteite skuld ook 27-miljard-rand aan Eskom en Rand Water. Maile het die dringende behoefte aan finansiële hervorming beklemtoon om gemeenskapsontwikkeling te ondersteun.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….