Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 22 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA waarsku oor groot uitdagings by die Kaapstadse hawe voor die vrugte-uitvoerseisoen
# Krieket: Minister McKenzie loof die Protea-vrouespan wat die eindstryd van die T20-Wêreldbekertoernooi gehaal het
# En Oekraïne se bevolking het sedert Rusland se inval in Februarie 2022 met meer as 10-miljoen afgeneem
# Die DA sê die Kaapstadse hawe staan voor groot bedryfsuitdagings en waarsku hierdie kwessies kan die komende vrugte-uitvoerseisoen op groot skaal beïnvloed. Volgens die party het die hawe, wat deur Transnet bestuur word, sleutelteikens misgeloop in Julie en Augustus, insluitend die beweging van vraghouers en omkeertye van skepe. DA-woordvoerder, Noko Masipa, versoek Transnet om die betrokkenheid van die privaat sektor te bespoedig om doeltreffendheid te verbeter en ontwrigtings te voorkom wat die ekonomie skaad:
# Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens verskerp sy optrede in die onwettige dieselvermengingsmark. Voorlopige bevindings toon ‘n bedryf wat van 2019 tot 2023 inkomste van 5,6 miljard-rand behaal het, met bewyse van dieselverdunning. Hierdie gebruik benut belastingvoordele van lampolie, ondermyn wettige ondernemings en hou gevare vir voertuie in. Die SAID het onlangs op twee groot depots in Limpopo en Gauteng toegeslaan. Die Departement van Minerale Bronne en Energie doen ook lukrake gehaltetoetse van brandstof om hierdie toenemende probleem te bekamp.
# Vryheidspark in Pretoria het ‘n aansoek van Afrikaanse organisasies verwerp vir ʼn vreedsame versetoptog teen die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette wat vir 5 November beplan word. Die Solidariteitsbeweging het daarop die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, versoek om in te gryp. Die optrede is gemik teen gedeeltes van die nuwe onderwyswet wat skoolbeheerliggame se beheer oor toelatings en taalbeleid beperk. AfriForum het met regsoptrede begin en vra regstreekse gesprekke met die Presidensie om te verseker die optog gaan voort.
McKenzie het intussen die Protea-vroue-krieketspan geloof vir hulle indrukwekkende vertoning in die T20-Wêreldbekertoernooi, waar hulle in die eindstryd in Dubai met 32-lopies teen Nieu-Seeland verloor het. Hy sê daar is ‘n behoefte aan grondvlak-ontwikkeling, veral in skole, en beklemtoon oproepe om gelyke vergoeding in sport om geslagsgelykheid te bevorder:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-53-sent teen die dollar, 18-rand-97-sent teen die euro en 22-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-105-dollar-87-sent. Die prys van goud is twee-duisend-739-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-71-sent per vat.
# En ten slotte: Oekraïne se bevolking het sedert Rusland se inval in Februarie 2022 met meer as 10-miljoen afgeneem. Volgens die Verenigde Nasies se Bevolkingsfonds het die voortgesette konflik gelei tot ʼn uittog van ongeveer 6,7-miljoen vlugtelinge en ʼn aansienlike daling in die geboortesyfer tot ongeveer een kind per vrou. Dit is aansienlik minder as die vervangingskoers van 2,1 wat nodig is om bevolkingsvlakke te handhaaf. Faktore wat bydra tot hierdie afname, sluit in vooroorlogse emigrasie en oorlogsverwante ongevalle wat die ernstige gevolge van die konflik op die land beklemtoon.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….