Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 21 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Twee bykomende beskuldigdes in die Lusikisiki-massamoord verskyn in die hof
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge en die Menseregtekommissie gaan rasseklassifikasie in Suid-Afrika aanpak
# En, krieket: Die Proteas het ‘n voorsprong van 34 lopies na die eerste dag van die eerste toets teen Bangladesj in Mirpur
# Twee bykomende beskuldigdes is gevoeg by die Lusikisiki-massamoord-saak in die Oos-Kaap. Hulle sal volgende Donderdag weer in die plaaslike Landdroshof verskyn, waar hulle by die vier ander beskuldigdes sal aansluit. Die Nasionale Vervolgingsgesag se streekswoordvoerder, Luxolo Tyali, sê Zenande Paya en Mawethu Nomdlembu is in Flagstaff in hegtenis geneem met vier gewere en ammunisie wat glo gebruik is in verlede maand se menseslagting in die dorpie Ngobozana waarin 18 mense dood is:
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge en die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie vergader hierdie week om die omstrede kwessie rondom rasseklassifikasie in Suid-Afrika aan te pak. Die instituut se veldtogbestuurder, Makone Maja, beklemtoon afhanklikheid van apartheidsera-klassifikasies benadeel steeds die samelewing. Hy het ‘n toename in rasse-gebonde wette opgemerk, met 141 wat tans in werking is, vergeleke met net 52 in 1996. Hy sê die vergadering het ten doel om die uitwerkings van hierdie klassifikasies op demokratiese instellings en maatskaplike vooruitgang te ondersoek.
# Die Suid-Afrikaanse Sionistefederasie versoek die Suid-Afrikaanse regering om druk op Hamas uit te oefen om gyselaars vry te laat na die dood van die groep se leier, Yahya Sinwar. Sinwar was verantwoordelik vir die organisering van die aanvalle wat gelei het tot die ontvoering van meer as 250 mense tydens die slagting van 7 Oktober verlede jaar in Israel. Woordvoerder Rolene Marks doen ‘n beroep op die regering om sy invloed te gebruik om die vrylating van die gyselaars te eis en pogings te ondersteun om vrede in die streek te bewerkstellig.
# Krieket: Suid-Afrika het 140 vir ses bereik met uitskeityd op die eerste dag van die eerste toets teen Bangladesj in Mirpur. Die Proteas se boulers het uitstekend gevaar om die gashere vir net 106 uit te boul, maar Suid-Afrika se instaan-kaptein, Aiden Markram, het daarna sy paaltjie vir net ses lopies te verloor en nog vyf kolwers was uit toe die eerstebeurt-voorsprong net twee lopies was. Tony de Zorzi het 30 bygedra, Ryan Rickelton 27 en Tristan Stubbs 23. Kyle Verreyne en Wiaan Mulder hervat môre die beurt.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-59-sent teen die dollar, 19-rand-9-sent teen die euro en 22-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-27-dollar-18-sent. Die prys van goud is twee-duisend-737-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-6-sent per vat.
# En ten slotte: ActionSA in KwaZulu-Natal sê prinses Sibuyiselwe Angela Buthelezi was daaraan toegewyd om die land as lid in die Nasionale Vergadering te dien. Die dogter van die Zulu eerste minister en stigter van die IVP, prins Mangosuthu Buthelezi, is vanoggend op 55 oorlede. Zwakele Mncwango van ActionSA sê haar onbaatsugtige werk en bydraes tot die nasie sal nooit ongesiens verbygaan nie, en haar nalatenskap sal voortgaan om toekomstige geslagte aan te spoor:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….