Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 17 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In hierdie bulletin:
# Ramaphosa vra die dringende hervorming van die VN-Veiligheidsraad om globale vrede en bestendigheid te bevorder
# Die minister van Sport, Kuns en Kultuur verdedig sy besigheidsklas-reis- en hotelkoste te midde van omstredenheid
# En, sokker: Atletico Madrid sal vir sy volgende vyf wedstryde nie kaartjies aan seisoenkaartjiehouers verkoop nie weens die skare se gedrag
# President Cyril Ramaphosa vra die dringende hervorming van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad om globale vrede en bestendigheid te bevorder. Hy het in sy toespraak voor die Nasionale Vergadering gesê die bestaande struktuur is verouderd en weerspieël nie die werklikhede van vandag se wêreld nie. Ramaphosa het Suid-Afrika se steun vir die Gemeenskaplike Posisie van Afrika herbevestig wat aandring op twee permanente setels vir die vasteland, en die afskaffing van die vetoreg:
# Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het sy besigheidsklas reis- en hotelkoste verdedig en sê hy volg die ministeriële handboek. Hy loop onder kritiek deur oor sy reisuitgawes van 800-duisend-rand na die Olimpiese Spele in Parys vroeër vanjaar. McKenzie het die media by die Markteater in Johannesburg ontmoet en ‘n beroep op deursigtigheid gedoen. Hy dring daarop aan dat dieselfde reis- en verblyfkriteria op alle ministers van toepassing is:
# Die DA het ‘n aansoek ingedien ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting wat eis dat Gauteng se premier, Panyaza Lesufi, die verslae van 177 forensiese ondersoeke vrystel. Die DA se provinsiale leier, Solly Msimanga, hou vol inwoners het die reg om die bevindinge en getal voltooide verslae te sien. Hy beskuldig Lesufi daarvan dat hy korrupte amptenare beskerm en verwys na spertye wat misgeloop is en verslae deur verklikkers. Hy sê die DA sal die saak by die Openbare Beskermer aanmeld indien die verslae nie bekend gemaak word nie.
# Inwoners van Sharpeville in Gauteng vra beheer terug oor hulle township-ekonomie, nadat ‘n plaaslike winkelier gisteraand doodgeskiet is. Daar is steeds ʼn swaar polisieteenwoordigheid terwyl inwoners winkels van buitelanders plunder en hulle beveel het om bedrywighede te staak en die gebied te verlaat. Plaaslike inwoners beweer buitelandse ondernemings skaad die township se ekonomie. Owerhede moet nog bevestig of die skietery verband hou met die onrus en die veldtog teen buitelandse winkeleienaars.
# Sokker: Die Spaanse klub, Atletico Madrid, het onderneem om vir sy volgende vyf wegwedstryde nie kaartjies aan houers van seisoenkaartjies te verkoop nie nadat hulle deur die Europese beheerliggaam, UEFA, en die Spaanse federasie gestraf is. Die klub is met 577-duisend-rand beboet en ‘n opgeskorte verbod op kaartjieverkope vir wegwedstryde opgelê nadat ondersteuners rassisties opgetree het tydens ʼn onlangse Kampioeneliga-nederlaag teen Benfica. Dit volg nadat items op die veld gegooi is tydens ʼn vroeëre wedstryd teen Real Madrid. Atletico sê dis moeilik om die skade aan sy beeld te herstel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-76-sent teen die dollar, 19-rand-23-sent teen die euro en 23-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-44-dollar-25-sent. Die prys van goud is twee-duisend-684-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….