Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 16 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die finansiële waghond beboet ‘n VBS-beskuldigde met drie-miljoen-rand omdat hy ‘n lening aan minister Simelane gegee het
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement worstel met ‘n werknemer-begrotingstekort van meer as 500-miljoen-rand
# En, rugby: SA Rugby gee toe aan druk en stel die spesiale algemene vergadering oor ‘n privaat aandelebelegging uit
# Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor het ‘n beskuldigde in die VBS Bank-aangeleentheid, Ralliom Razwinane, met drie-miljoen-rand beboet en hom vir tien-jaar van finansiële dienste verbied. Hy het na bewering geld vir ‘n koffiewinkel aan die minister van Justisie, Thembi Simelane, geleen kort nadat hy die Polokwane-munisipaliteit aangeraai het om in VBS te belê terwyl sy die burgemeester was. Die finansiële waghond het bevind Razwinane se onderneming, Gundo Wealth, het nie eerlike finansiële raad verskaf nie en het onbehoorlik voordeel getrek uit munisipale beleggings.
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement sê hy fokus daarop om kritieke vakatures te vul, ondanks begrotingsuitdagings. Die departement worstel met ‘n tekort van 500-miljoen-rand in sy werknemer-begroting. Hierdie tekort, veroorsaak deur verlede jaar se onderbefondsde salarisooreenkoms, plaas aansienlike druk op die departement se hulpbronne. Die woordvoerder, Motalatale Modiba, sê die departement gaan voort om met belanghebbendes te skakel om hierdie begrotingsuitdagings uit die weg te ruim:
# ‘n Brandstoftenkwa wat ontplof het in die noorde van Nigerië, het die dood van minstens 94 mense veroorsaak en 50 is beseer. ‘n Polisiewoordvoerder het aan AFP gesê baie van die slagoffers het probeer om brandstof wat op die pad gemors het, in die hande te kry nadat die tenkwa in die staat Jigawa-staat in ‘n ongeluk was. Honderde mense is al in tenkwa-ongelukke in Nigerië dood. Die meerderheid van die slagoffers is mense wat om die tenkwa saamdrom om brandstof uit te skep voor daar ‘n groot ontploffing is.
# Rugby: SA Rugby het op versoek van die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, ʼn beplande spesiale algemene vergadering uitgeskakel om ʼn voorstel van ʼn privaat aandelebelegging in die sport se handelsregte te oorweeg. Die vergadering sou môre in Kaapstad plaasvind, maar sal nou op versoek van McKenzie herskeduleer word om die regering meer breedvoerig op die hoogte te bring. Die groot unies is gekant teen die transaksie met ‘n Amerikaans-gebaseerde maatskappy en wil hulle eie voorstel indien.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-61-sent teen die dollar, 19-rand-18-sent teen die euro en 22-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-754-dollar-16-sent. Die prys van goud is twee-duisend-682-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-27-sent per vat.
# En ten slotte: AfriForum vra vir die viering van Afrikaans en ander inheemse tale ter herdenking van Internasionale Woordeboekdag vandag. Die organisasie beplan versetoptrede teen die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette. AfriForum se hoof van kultuursake, Alana Bailey, wys op die belangrikheid van die behoud van moedertaalonderrig en waarsku die Bela-wet kan taalverskeidenheid bedreig deur Engels te bevorder:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….