Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 15 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Macpherson onthul die eerste bodvenster vir die befondsing van infrastruktuurprojekte
# Die Staatsdienskommissie se verslag toon ondoeltreffendheid raak dienslewering
# En, padwedlope: Die Kaapstadse marathon vind die naweek plaas
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het ‘n bodvenster vir projek-voorbereidings-befondsing bekendgestel. Sektore sluit in energie, water, sanitasie en vervoer. Macpherson sê die projek het ten doel om infrastruktuurbeleggings te bevorder, werkskepping aan te vuur en 1,5-persentasiepunte by die ekonomiese groei te voeg. Hy sê ook ‘n Nasionale Bouberaad sal volgende maand in eThekwini gehou word:
# Die Staatsdienskommissie het die ondoeltreffendheid in die verskaffing van kantore vir staatsamptenare uitgelig. Die kommissaris, Anele Gxoyiya, verduidelik hoe dit dienslewering beïnvloed. Die vrystelling van die Staatsdienskommissie se kwartaalverslag dui aan dit raak nie net landsburgers nie, maar ook staatsamptenare. Gxoyiya het ‘n beroep gedoen vir verbeterings in kantoorinfrastruktuur om bedryfsdoeltreffendheid en algehele diensgehalte in die Staatsdiens te verbeter:
# Die burgerlike samelewingsorganisasie, Baagi ba Suid-Afrika, is besorg oor toenemende mensehandel en dwelmkartel-swendelary wat Suid-Afrikaners teiken. Inligting deur die Departement van Internasionale Betrekkinge toon 680 Suid-Afrikaners is in 2023 in die buiteland vir dwelmoortredings aangehou. Die organisasie het in ses jaar 36 Suid-Afrikaanse dwelmmuile met hul gesinne herenig. Stigter Glory Matipile beklemtoon baie slagoffers doen aansoek vir werk in die buiteland, wat hulle maklike teikens maak vir smokkelskemas en swendelary op sosiale media.
# Die Toerisme-sakeraad van Suid-Afrika verwelkom die nuwe Witskrif oor Toerisme-ontwikkeling, wat die 1996-weergawe vervang. Die witskrif is nou vir openbare kommentaar deur die Kabinet goedgekeur. Die uitvoerende hoof, Tshifhiwa Tshivhengwa, het aan Newzroom Afrika gesê dit bevorder hervorming en sal aandag skenk aan sleutelkwessies, insluitend verbeterde markintelligensie, tegnologie en vaardigheidsontwikkeling om toerisme te verbeter:
# Padwedlope: Die organiseerders van die Kaapstadse marathon sê vanjaar se wedloop gaan een van die opwindendste in die geleentheid se geskiedenis wees. ‘n Rekordgetal van 21-duisend deelnemers word verwag. Verlede jaar se wenners, die Ethiopiërs Tsige Haileslase en Adane Kebede Gebre, keer die naweek terug om hulle titels te verdedig. Die wedloopdirekteur, Barry van Blerk, sê die wedloop gaan spog met die beste marathon-atlete ooit op Afrika-bodem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-59-sent teen die dollar, 19-rand-20-sent teen die euro en 23-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-866-dollar-63-sent. Die prys van goud is twee-duisend-649-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….