Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 14 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister McKenzie se reis van 800-duisend-rand na die Spele in Parys laat die wenkbroue lig
# ActionSA beloof om die minister van Justisie aanspreeklik te hou in die Parlement
# En, motorsport: Mick Schumacher is in die wedloop om volgende jaar vir Sauber se F1-span te jaag
# Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, kry teenkanting nadat sy reis na die Olimpiese Spele in Parys belastingbetalers meer as 800-duisend-rand gekos het. MacKenzie het kort na sy aanstelling onderneem om die befondsing vir super-aanhangers stop te sit en gesê hulpbronne moet opsy gesit word vir atlete en kunstenaars. Die departement het egter 1,8-miljoen-rand aan McKenzie en sy ondersteuningspan bestee, meer as die 1,3-miljoen-rand vir super-aanhangers. Die minister se reiskoste was 804-duisend-590-rand, met die meeste daarvan vir vlugte, verblyf en vervoer.
# ActionSA is vasbeslote om die minister van Justisie, Thembi Simelane, in die Parlement aanspreeklik te hou vir haar betrokkenheid by die VBS Mutual Bank-skandaal. Die party herbevestig sy verbintenis om toesmeerdery oop te vlek deur lede van die regering van nasionale eenheid wat korrupsie wil verbloem om hul koalisie se sukses te verseker. Athol Trollip van ActionSA het op ‘n nuuskonferensie gesê hulle is vasberade om te verseker korrupte leiers word aanspreeklik gehou om die publiek se vertroue in die regstelsel te herstel:
# Die Nasionale Finansiële Ombudskema versoek versekeraars om toenemende bedrieglike eise op te volg nadat ‘n polisiesersant van Limpopo, Rachel Shokane-Kutumela, aangekla is omdat sy na bewering ses moorde gereël het om tien-miljoen-rand te eis. In nog ʼn saak word Agnes Setshwantsho daarvan aangekla dat sy versekering vir 40 familielede uitgeneem en twee vermoor het. Woordvoerder Nceba Sihlali het aan eNCA die gevolge verduidelik wanneer streng maatreëls op begrafnispolisse ingestel word:
# Motorsport: Die seun van die voormalige Formule Een-legende, Michael Schumacher, kan dalk volgende jaar ʼn permanente plek in die sport losslaan. Audi se hoof, Mattia Binotto, sê die 25-jarige Mick Schumacher word oorweeg as ‘n moontlikheid vir die beskikbare posisie by Sauber. Die span het nog nie bekendgemaak wie in 2025 nog ʼn Duitser, Nico Hulkenberg, se spanmaat gaan wees nie. Die huidige jaer, Valtteri Bottas van Finland, of die F2-bestuurder Gabriel Bortoleto van Brasilië is as die ander bestuurder beskou, maar Binotto sê Schumacher word ook oorweeg.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-58-sent teen die dollar, 19-rand-18-sent teen die euro en 22-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-814-dollar-36-sent. Die prys van goud is twee-duisend-649-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-54-sent per vat.
# En ten slotte: Die Australiese Republikeinse Beweging se veldtog oor koning Charles se komende besoek word as ʼn “afskeidstoer” van die Britse monargie bestempel. Dit sluit in handelsware om ʼn debat te ontlok oor die rol van die kroon in moderne Australië. Die toer van Vrydag tot volgende Dinsdag is die eerste koninklike besoek in langer as ‘n dekade. Dit volg ‘n jaar na die onsuksesvolle Stem aan die Parlement-verkiesing, wat die momentum vir nog ‘n referendum gestuit het. Die grondwet kan net met ʼn referendum verander word en misluk 80-persent van die tyd.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….