Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Umalusi keur 2024 se matriekeksamen goed maar waarsku teen bedrog
# SKOOR erken PRASA-verbeterings te midde van voortgesette uitdagings
# En, krieket: Temba Bavuma is uit die eerste toets teen Bangladesj en Dewald Brevis is die eerste keer in die toetsgroep
# Umalusi het 2024 se Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen goedgekeur wat vanaf 21 Oktober tot 28 November sal plaasvind. Die uitvoerende hoof, Mafu Rakometsi, het leerders en onderwysers versoek om alle gekullery te vermy, insluitend groeps-duplisering, wat selfs soms onderwysers betrek. Hy het ook gemeenskappe ontmoedig om met versetoptrede die eksamen te ontwrig, en beklemtoon dit stel leerders se toekoms in gevaar en bring die eksamenstelsel in gedrang:
# Die Parlement se staande komitee oor Openbare Rekeninge neem noemenswaardige bedryfsverbeterings waar by die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika. Amptenare het na ‘n onlangse toesigbesoek gevind nuwe treine en herstelde spoordeurgange was ʼn beter ervaring vir pendelaars. SKOOR se voorsitter, Songezo Zibi, sê daar is egter steeds uitdagings met die behoefte aan vinniger dienste en opgradering van infrastruktuur:
# Polyco het in vennootskap met Massmart ʼn gesamentlike borgskap bekendgemaak om afvalherwinners te bemagtig met noodsaaklike beskermende toerusting en higiëne-pakkies ter waarde van meer as 500-duisend-rand. Polyco se uitvoerende hoof, Patricia Pillay, sê organisasies soos die African Reclaimers Organisation, South African Waste Pickers Association en SA “We Can Do It” versprei die pakkies. Sy sê hulle hoop om afvalherwinners met die nodige gereedskap toe te rus om hulle werk veilig en met waardigheid uit te voer:
# ʼn Australiese vrou veg om haar lewe in die hospitaal nadat haar eie hond haar arm afgebyt het in die kusstad Townsville, in die noorde van Queensland. Die 34-jarige vrou het lewensbedreigende beserings opgedoen toe haar arm onder die elmboog afgebyt is. Haar toestand is ernstig maar bestendig. Volgens die polisie het hulle ʼn baie aggressiewe Amerikaanse veghond op die toneel vankant gemaak. Dit volg ʼn dag nadat ʼn vrou in Melbourne kritiek beseer is toe drie honde haar aangeval het.
# Krieket: Die Protea-kaptein, Temba Bavuma, sal die eerste toets teen Bangladesj weens ʼn armbesering misloop en die witbal-kaptein, Aiden Markram, sal die span aanvoer. Die opwindende jong kolwer, Dewald Brevis, is die eerste keer in die toetsgroep opgeneem nadat hy indruk gemaak het in die korter formate. Bavuma reis steeds volgende week saam met die span na Bangladesj en hoop om fiks te wees vir die tweede toets. Die eerste kragmeting begin die 21ste van die maand in Dhaka en die tweede die 29ste in Chattogram.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-48-sent teen die dollar, 19-rand-12-sent teen die euro en 22-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-289-dollar-97-sent. Die prys van goud is twee-duisend-647-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….