Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema versoek die Parlement om die EFF se privaat ledevoorstel oor die Reserwebank goed te keur
# Everest Wealth sê inflasie verweer die middelklas en hul mediese sorg
# En, sokker: Bafana hoop op nog sukses teen die Kongo môre na ‘n goeie begin in die Afrikabeker-kwalifiseerders
# Die EFF-leier, Julius Malema, versoek die Parlement om die party se privaat ledevoorstel oor die nasionalisering van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, goed te keur. Malema voer aan die oordrag van die eienaarskap van die sentrale bank na die staat sal monetêre beleid by die ontwikkelingsbehoeftes van die meerderheid laat aanpas. Hy voeg by die meeste sentrale banke wêreldwyd is in staatsbesit:
# Everest Wealth het beklemtoon die lewenskostekrisis, aangedryf deur inflasie en hoë mediesefondspremies, verweer die middelklas se vermoë om goeie gesondheidsorg te bekostig. Die uitvoerende hoof, Thys van Zyl, sê die werklike inflasiekoers vir noodsaaklikhede is dikwels dubbel die amptelike koers, wat die middelklas armer maak. Hy waarsku ook stygende mediese premies en verminderde voordele dwing moeilike keuses af tussen gesondheidsorg en noodsaaklike uitgawes.
# Agt mense is dood toe Russiese missiele ‘n burgerlike houerskip by ‘n hawe in die Odesa-streek in Oekraïne getref het. Volgens amptenare is dit die derde aanval op ‘n burgerlike vaartuig die afgelope vier dae. Die vlaag aanvalle op Swartsee-hawens val saam met president Volodymyr Zelensky se Europese toer waartydens hy leiers in Londen, Parys en Rome besoek. Zelensky sou die Amerikaanse president, Joe Biden, Saterdag saam met ander Westerse bondgenote in Berlyn ontmoet, maar Biden het sy reis gekanselleer weens die bedreiging van Orkaan Milton.
# Sokker: Bafana Bafana hoop om hulle goeie begin in die Afrikabekertoernooi-kwaliseerders voort te sit wanneer hulle môreaand in Gqeberha te staan kom teen Kongo. Suid-Afrika het 2-elk gelykop gespeel teen Uganda in hulle eerste wedstryd, gevolg deur ‘n oorwinning van 3-2 oor Suid-Soedan. Bafana is tans saam met Uganda bo aan Groep K, met Kongo een punt agter hulle. Die kaptein en doelwagter Ronwen Williams keer terug vir Suid-Afrika. Die wedstryd in die Nelson Mandela-stadion skop sewe-uur af.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-20-sent teen die euro en 22-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-46-dollar-34-sent. Die prys van goud is twee-duisend-619-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-51-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Koreaanse skrywer, Han Kang, is die wenner van die Nobelprys vir Letterkunde vir haar intense poëtiese prosa wat geskiedkundige traumas konfronteer en die broosheid van menslike lewe blootlê. Die prysgeld is meer as 19-miljoen-rand en sy sal op 10 Desember saam met ander wenners ‘n medalje ontvang. ‘n Woordvoerder van die Nobelkomitee, Anders Olsson, sê Kan is bekend vir haar boeke, The Vegetarian en Human Acts, en word wêreldwyd hoog aangeskryf:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….