Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 9 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA onderneem om Tshwane se inwoners te beskerm teen die nuwe koalisie
# NotInMyName International vra vir die sluiting van buitelanders se winkels nadat kinders in Soweto sterf
# En, krieket: ‘n Briljante oorwinning vir die Proteas-vroue en is nou eerste in Groep B by die T20 Wêreldbeker
# Die DA sê hy is daartoe verbind om inwoners van Tshwane te beskerm nadat die ANC ‘n koalisie met die EFF en ander partye gevorm het. Dit volg op die verkiesing van Nasiphi Moyo van ActionSA as nuwe burgemeester. Die vorige burgemeester, Cilliers Brink van die DA, sê die koalisie is ʼn risiko vir die stad se finansiële bestendigheid. Hy sê die DA onderneem om vol te hou met vordering wat met belangrike projekte behaal is en om aanspreeklikheid van die ANC-EFF-koalisie te verseker:
# NotInMyName International versoek die sluiting van spaza-winkels in buitelandse besit, en sê die plaaslike ekonomie moet na sy regmatige eienaars terugkeer. Dit volg op die dood van vyf kinders in Soweto nadat hul na bewering besmette kos geëet het. Die sekretaris-generaal van die beweging, Themba Masango, glo bemagtiging van inwoners met die verwydering van buitelandse winkeleienaars sal help om die township-ekonomie te laat herleef en die gemeenskap se welstand beskerm:
# Die 99-jaar huurkontrakte van swart boere in Zimbabwe wat meer as 20 jaar gelede grond deur beslagleggings verkry het, word in oordraagbare verblyfreg omgeskakel. Die minister van Inligting, Jenfan Muswere, het aangekondig die nuwe verblyfregdokument bied verbeterde sekerheid aan begunstigdes van die grondhervormingsprogram. Dit stel hulle in staat om hul eiendom te verkoop, wat hulle voorheen nie kon doen nie. Die grond kan ook as waarborg aangebied word. Muswere beplan ook om beleggings in landbou en verwante sektore te lok.
# Krieket: Die Protea-vroue is weer aan die wenkant op die T20-Wêreldbekertoernooi in die Verenigde Arabiese Emirate. Hulle het Skotland in hulle Groep B-wedstryd in Dubai met ʼn allemintige 80 lopies verslaan. Kaptein Laura Wolvaardt, Tazmin Brits en Marizanne Kapp het al drie 40-talle behaal en die Proteas het ’n baie mededingende 166 vir vyf aangeteken. Hulle het Skotland daarna vir net 86 uitgeboul nadat Nonkululeko Mlaba drie paaltjies laat kantel het. Die Proteas is nou eerste in die groep en speel Saterdag hulle laaste groepwedstryd teen Bangladesj.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-65-sent teen die dollar, 19-rand-33-sent teen die euro en 23-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-901-dollar-20-sent. Die prys van goud is twee-duisend-613-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-4-sent per vat.
# En ten slotte: Robbie Williams se vertoning in Johannesburg, wat vir 18 Januarie volgende jaar geskeduleer was, is herskeduleer geskille wat verband hou met die Britse popsanger se Better Man-rolprent-promosieverpligtings in die VSA. Twee konserte sal nou op 25 en 26 Januarie by die SunBet Arena, Time Square, in Pretoria, plaasvind. Kaartjiehouers sal hul geld terug ontvang of gekontak word vir alternatiewe reëlings. Voorverkoopkaartjies sal op 24 Oktober beskikbaar wees, met algemene verkope wat op 25 Oktober begin. Die Kaapstadse vertoning is nie geraak nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….