Nuus 17:00
BULLETIN 7 Augustus 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kabinet sê die Madlanga-kommissie se ondersoek sal openbare vertroue herbou
# Minister Macpherson beloof om korrupsienetwerke binne die Ontwikkelingstrust af te takel
# En die Kremlin bevestig Putin en Trump gaan binnekort ontmoet
# Die kabinet verwelkom die aanstelling van regter Mbuyiseli Madlanga as voorsitter van die regterlike kommissie van ondersoek na misdadigheid, politieke inmenging en korrupsie in die strafregstelsel. Dit volg ná bewerings wat die polisiekommissaris van KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi, geopper het. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die kommissie se ondersoek sal openbare vertroue herbou:
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, sê hy is vasberade om misdaadnetwerke binne die Onafhanklike Ontwikkelingstrust af te takel. Hy het ‘n strafregtelike saak aanhangig gemaak teen die geskorste uitvoerende hoof, Tebogo Malaka, en woordvoerder, Phasha Makgolane, wat beskuldig word van ‘n poging om ‘n joernalis om te koop om ‘n korrupsiestorie te verhoed. Macpherson het buite die Kaapstad Sentraal-polisiestasie beloof om die publiek se vertroue te herwin en verklikkers en joernaliste te beskerm wat onwettige optrede ontbloot:
# Die Wes-Kaapse Departement van Landbou vra perde-eienaars om hul diere in te ent teen die dodelike Afrika-perdesiekte, veral ná ‘n besondere nat somer. Suid-Afrika word in beheersones verdeel, met verpligte inenting tussen Junie en Oktober in besmette sones en beskermingsones. Staatsgoedkeuring word vereis in vrye en toesigsones. Die hoof van Kommunikasie, Mary James, sê behoorlike inenting ondersteun perdebeweging en beskerm Suid-Afrika se perde-uitvoerhandel. Slegs die lewende verswakte Afrika-perdesiekte-entstof van Onderstepoort is gemagtig.
Nuus uit die buiteland:
# Die Russiese president, Vladimir Putin, en sy Amerikaanse ampsgenoot, Donald Trump, gaan binnekort vergader in die eerste ontmoeting tussen leiers van die twee lande sedert 2021. Dit volg ‘n dag nadat Trump se gesant, Steve Witkoff, met Putin vergader het met die doel om die oorlog in Oekraïene te probeer beëindig. ‘n Woordvoerder van die Kremlin, Yuri Ushakov, sê daar is in wese ooreengekom op ‘n hoëvlak-bilaterale vergadering. Trump dreig met nuwe sanksies teen Rusland en lande wat sy uitvoerprodukte koop as daar nie ‘n ooreenkoms is nie.
# Tennis: Die Oekraïnse speler Elina Svitolina beskuldig ontevrede wedders van aanlyn mishandeling, insluitend doodsdreigemente, nadat sy teen Naomi Osaka van Japan verloor het in die halfeindronde van die Kanadese Ope. Sy het die boodskappe op sosiale media geplaas en sê die manier waarop daar met vroue en ma’s gepraat word is skandelik. Sommige van die boodskappe verwys na die oorlog tussen haar vaderland en Rusland. ‘n Onlangse opname toon woedende wedders was verlede jaar verantwoordelik vir byna die helfte van haatboodskappe wat spelers op sosiale media moes verduur.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-70-sent teen die dollar, 20-rand-62-sent teen die euro en 23-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-309-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-383-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-69-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….