Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 4 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Regterlike Dienskommissie staan die MK-party se hofaansoek teen om die regtersonderhoude uit te stel
# Die Ekurhuleni-reeksverkragter Nkosinathi Phakathi kry verskeie lewenslange vonnisse
# En, krieket: Die Protea-vroue vermorsel die Windies in die T20-Wêreldbekertoernooi
# Die Regterlike Dienskommissie verwerp die versoek van die MK-party om volgende week se onderhoude vir nuwe regters uit te stel. Die MK-party versoek die Hooggeregshof in Johannesburg om die onderhoude uit te stel na ‘n onlangse tussentydse uitspraak van die Wes-Kaapse Hooggeregshof wat oudregter John Hlophe van MK verbied om op die RDK te dien. Die kommissie se regsverteenwoordiger, Hamilton Maenetje, het die hof meegedeel deur die onderhoude uit te stel, sal die reeds sukkelende hofstelsel aan bande gelê word:
# Die Hooggeregshof in Johannesburg het die Ekurhuleni-reeksverkragter, Nkosinathi Phakathi, verskeie lewenslange vonnisse opgelê. Phakathi, wat skuldig bevind is op 90 aanklagte van verkragting, 43 ontvoerings en ander ernstige misdade, het inwoners van Ekurhuleni van 2012 tot 2021 geterroriseer. Sy slagoffers, insluitend kinders so jonk soos nege, moes die mishandeling verduur. Phakathi het skuld beken op 148 aanklagte en daarmee sy plek onder die land se mees berugte misdadigers verseker.
# Die adjunkminister van Polisie, Polly Boshielo, het een-duisend-812 nuwe polisiekonstabels in die diens verwelkom. Hulle het ‘n opleidingsprogram van ses-maande voltooi en ten minste ‘n NKR-vlak 6-kwalifikasie in verskeie velde bereik, insluitend Regte en Forensiese Wetenskap. Die projek het ten doel om polisiesigbaarheid en misdaadbekampingspogings te verbeter. Woordvoerder Athlenda Mathe sê die tweede groep studente sal hul opleiding in Desember voltooi:
# Meer as 100 olifante in die noorde van Thailand is na hoërliggende gebiede verskuif om weg te kom van vinnig-stygende vloedwater. Die Olifant-natuurpark in die Chiang Mai-provinsie het ‘n video geplaas van die paniekbevange olifante wat in modderwater spartel en die regering gevra om dringend hulp te stuur. Video’s wys hoe modderwater deur die park stroom terwyl personeel en vrywilligers honde in komberse dra en hokke op rubberbande plaas om diere na veiligheid te bring.
# Krieket: Kaptein Laura Wolvaardt en haar aanvangsvennoot, Tazmin Brits, het die Protea-vroue gelei tot ‘n uitstekende oorwinning met tien paaltjies oor die Wes-Indiese Eilande op die T20-Wêreldbekertoernooi in die Verenigde Arabiese Emirate. Albei het onoorwonne vyftigtalle aangeteken onderweg na die gemiddelde teiken van 119 en dit verby gesteek met 13 balle oor. Nonkululeko Mlaba was vroeër Suid-Afrika se beste bouler met vier paaltjies. Die Proteas speel Maandag in Sharjah teen Engeland, gevolg deur groepswedstryde teen Skotland en Bangladesj.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-52-sent teen die dollar, 19-rand-22-sent teen die euro en 22-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-679-dollar-45-sent. Die prys van goud is twee-duisend-649-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….