Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party dien ‘n dringende aansoek in teen die Regterlike Dienskommissie se onderhoudproses
# Die varkplaas-moordverdagtes se borgtog-verhoor word uitgestel
# En, rugby: ‘n Veelsydige agterspeler van die Wallabies word verbind met ‘n skuif na die NFL
# Die MK-party het ‘n dringende aansoek teen die Regterlike Dienskommissie ingedien wat vra volgende week se onderhoude met voornemende regters moet uitgestel word. Die party voer aan die RDK se weiering om die onderhoude uit te stel, is ongrondwetlik. Hulle glo die deelname van afgedankte regter, John Hlophe, is noodsaaklik vir die behoorlike samestelling van die kommissie, ten spyte daarvan dat die Wes-Kaapse Hooggeregshof sy deelname verbied het. Die saak word Vrydag in die Hooggeregshof in Johannesburg aangehoor.
# Die borgtog-verhoor van drie mans wat daarvan aangekla word dat hulle twee vroue op ‘n plaas in Limpopo vermoor en hulle liggame vir varke gevoer het, is tot 6 November uitgestel. Die boer, Zachariah Olivier, die plaasbestuurder, Adriaan de Wet, en ‘n werker, William Musora, het vanoggend in die Streekhof in Polokwane verskyn vir die moord op Mariah Makgato and Lucia Ndlovu. Die borgtog-aansoeke is vertraag weens ‘n Hooggeregshof-beslissing oor toegang tot die dossier. Die saak is na die Mankweng-landdroshof terugverwys.
# Die DA in Tshwane versoek ‘n dringende ondersoek ná vermeende sabotasie by die Pyramid-substasie, waar ‘n brand vanoggend ernstige skade aangerig het. Die party het tydens ‘n toesigbesoek afgekom op stukkende slotte, beskadigde deure en belangrike beheerpaneelkabels wat opsetlik beskadig is. Die DA-lid, Themba Fosi, meen dit kan oor finansiële redes gaan, aangesien kontrakteurs by die herstelwerk kan baat. Hy eis aanspreeklikheid en deursigtigheid om enige moontlike samespanning te onthul:
# Die Suid-Afrikaanse Sionistefederasie veroordeel Iran se missielaanval op Israel en beskryf dit as ʼn gevaarlike toename in vyandighede. Die forum kritiseer die Suid-Afrikaanse regering vir sy swye oor die kwessie. Woordvoerder Rolene Marks versoek die regering om hierdie oorlogsdaad te veroordeel. Sy wys ook op Iran se destabiliserende rol in die Midde-Ooste en beklemtoon Israel se reg om homself te verdedig:
# Rugby: Die beleërde Wallabie-afrigter, Joe Schmidt, gaan waarskynlik die dienste van die veelsydige agterspeler, Jordan Petaia, verloor vir volgende jaar se reeks teen die Britse en Ierse Leeus. Hy het glo verskeie aanloklike aanbiedings van Europese klubs van die hand gewys om sy droom te verwesenlik om in die National Football League te speel. Petaia gaan vroeg volgende jaar ʼn ontwikkelingskamp in Florida bywoon. Sy kontrak met die Reds verstryk in November. Die 24-jarige het 31 toetse vir Australië gespeel sedert sy buiging tydens 2019 se Wêreldbekertoernooi in Japan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-20-sent teen die euro en 23-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-818-dollar-34-sent. Die prys van goud is twee-duisend-651-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….