Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 1 October 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA dien strafregtelike klagte in teen die minister van Justisie, Thembi Simelane
# Die regering word gewaarsku om voorkomingsmaatreëls in te stel teen natuurrampe
# En sokker: Erik ten Hag is glo net veilig vir Manchester United se volgende twee wedstryde
# ActionSA het strafregtelike klagte ingedien teen die minister van Justisie, Thembi Simelane, oor ‘n beweerde VBS-gekoppelde lening om ‘n koffiewinkel te koop. Athol Trollip van ActionSA beweer sy het die Wet op die Voorkoming en Bekamping van Korrupte Bedrywighede oortree sowel as ‘n lening van 575-duisend-600 van Gundo Wealth Solutions vervals. Hy beweer die dokumente is vervals om ‘n onwettige transaksie wettig te maak, en vra haar skorsing hangende die ondersoek:
# Professor Guy Midgley van die Universiteit Stellenbosch waarsku die regering om voorkomingsmaatreëls in te stel teen natuurrampe en uiterste weerstoestande wat met klimaatsverandering verband hou. Die afgelope maande het dele van die land onder gure weer deurgeloop, met onder meer sneeu in KwaZulu-Natal. Midgley beywer hom vir beleggings in gevorderde weerdienste, vroeë waarskuwings en behoorlike ontruimingstrategieë om lewens te beskerm. Hy glo kennis en befondsing kan hierdie probleme doeltreffend oplos.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens voorspel intussen in Desember en Januarie ‘n La Niña-weerverskynsel, wat bogemiddelde reën in die suidelike streek sal veroorsaak. ‘n Hoofwetenskaplike, Christien Engelbrecht, waarsku oor ‘n moontlike somerhittegolf en vra Suid-Afrikaners om genoeg vloeistof te drink om hitteverwante sterftes te voorkom. Sy waarsku dat hoë temperature gedurende hierdie tydperk regoor die land verwag kan word:
# Drie mense is dood en 15 beseer toe ‘n man klante met ‘n mes aangeval het in ‘n Walmart-supermark in Sjanghai. Die Chinese polisie het ‘n 37-jarige man op die toneel in hegtenis geneem. Die voorval het plaasgevind in ‘n winkelsentrum in Songjiang, ‘n digbevolkte voorstedelike distrik in die suidweste van die stad, waar daar ook verskeie universiteite is. Die polisie sê die drie slagoffers het in die hospitaal aan hul beserings beswyk. Vuurwapens word verbied in China, maar die land het die afgelope maande ‘n vlaag mesaanvalle beleef.
# Sokker: Erik ten Hag sal glo vir minstens die volgende twee wedstryde hoofafrigter van Manchester United bly. Die Nederlander is onder druk nadat die beroemde Engelse klub hierdie naweek met nul-3 teen Tottenham Hotspur verloor het. Dit laat hulle op sewe ligapunte na ses Premierligawedstryde, en 12de op die punteleer. Die span kon verlede seisoen slegs agste eindig. Die volgende twee wedstryde, Donderdag teen FC Porto en Sondag teen Aston Villa, is volgens berigte van kritieke belang vir Ten Hag se loopbaan op Old Trafford.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-28-sent teen die dollar, 19-rand-15-sent teen die euro en 23-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-445-dollar-9-sent. Die prys van goud is twee-duisend-651-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-78-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….