Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 27 September 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA gaan die Hlophe-aangeleentheid na die Parlement se Grondwetlike Hersieningskomitee neem
# Holomisa vereer 42 vryheidsvegters as onbaatsugtige helde wat teen apartheid gestaan het
# En, tennis: ‘n Maklike begin vir Carlos Alcaraz in die Chinese Ope
# ActionSA gaan John Hlophe se saak na die Parlement se Grondwetlike Hersieningskomitee verwys, na aanleiding van ‘n Hooggeregshof-interdik wat sy aanstelling op die Regterlike Dienskommissie verbied. ActionSA se parlementêre hoofsweep, Lerato Ngobeni, bevraagteken teenstrydighede in geskiktheids-kriteria vir ‘n openbare amp. Sy sê die party eis hervormings vir standaarde soos parlementêre posisies, insluitend die RDK:
# Die adjunkminister van Verdediging, Bantu Holomisa, het 42 ontslape vryheidshelde geloof vir hul onwrikbare toewyding teen apartheid. Hy het op ‘n tuiskomseremonie in Pretoria gepraat. Holomisa het hulle beskryf as onbaatsugtige helde wat dapper geveg het vir Suid-Afrika se vryheid en waardigheid. Hy sê hul opofferings het geen perke geken nie, en die land erken hul bydraes tot geregtigheid en gelykheid vir alle Suid-Afrikaners:
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement sê hy stel hervormings voorop om ‘n skoon oudituitkoms te bereik deur bestuur, verkrygingsprosesse en dienslewering te verbeter. Pogings is aan die gang om aandag te skenk aan ouditbevindings, veral in mediese en geestesgesondheids-dienste. Motalatale Modiba van die departement het aangekondig belangrike mediese regseise ter waarde van 18-miljard-rand is verminder tot 13,2-miljard-rand wat ‘n groot verbetering in finansiële bestuur toon:
# Donald Trump sal president Volodomyr Zelensky ontmoet ondanks kritiek tydens die Amerikaanse verkiesingsveldtog. Die Republikeinse benoemde sê die Oekraïnse leier sal Trump Tower vandag besoek. Trump het Zelensky by herhaling gekritiseer omdat hy nie met Moskou wil onderhandel nie. Hy is in 2019 aangekla na beskuldigings dat hy Zelensky wou dwing om ongure inligting oor die Biden-familie te onthul. Zelensky het reeds met president Joe Biden en visepresident Kamala Harris vergader oor sy oorwinningsplan waarmee hy hoop om Rusland te dwing tot ‘n diplomatieke skikking van die oorlog.
# Tennis: Die wêreld-nommer-drie, Carlos Alcaraz, het ‘n maklike oorwinning behaal in sy eerste wedstryd in die Chinese Ope deur die Fransman, Giovanni Mpetshi Perricard, 6-4, 6-4 te klop. Die Spanjaard was egter ongelukkig met die skeidsregter wat hom in die eerste stel twee keer vir tyd gestraf het. Alcaraz en die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner van Italië, het vroeër ‘n ligte oomblik in die gimnasium gedeel na botsende uitsprake oor die besige ATP-toerskedule. Sinner het gister drie stelle nodig gehad om Nicolas Jarry van Chili te klop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-8-sent teen die dollar, 19-rand-13-sent teen die euro en 22-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-738-dollar-20-sent. Die prys van goud is twee-duisend-670-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….