Nuus 17:00
BULLETIN 18 September 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Binnelandse Sake sê daar is ‘n toename in bedrieglike asielaansoeke
# Die Hezbollah-hoof praat nadat byna 3000 gewond is toe tweerigtingradio’s ontplof
# En, plaaslike entrepreneurs gaan hul werk in Parys ten toon stel
# Die Departement van Binnelandse Sake het ‘n aansienlike toename in bedrieglike vlugteling-asielaansoeke aan die lig gebring. Die adjunk-direkteur-generaal, Thulani Mavuso, het aan die Parlement se portefeuljekomitee gesê strenger immigrasiewette is nodig om onwettige immigrasie hok te slaan. Hy het beklemtoon die komende witskrif, wat teen 2027 voorgelê sal word, sal ‘n sterker wettige raamwerk vir vlugtelingbeskerming en die asielprosesse vestig:
# Die vakbond Nehawu doen ‘n beroep op die minister van Hoër Onderwys, Nobuhle Nkabane, om onmiddellik aandag te gee aan sy lede in haar departement se probleme. Die vakbond se woordvoerder, Lwazi Nkolonzi, sê die lede loop deur onder ellende, pyn en versmoring weens die behandeling wat hulle van die departement se sogenaamde versorgende maar hardkoppige bestuur ontvang. Hy sê hulle is ook bewus van swak administrasie in die departement:
# Die Hezbollah-hoof, Sayyed Hassan Nasrallah, sal môre ‘n toespraak lewer nadat tweerigtingradio’s wat vir kommunikasie gebruik word, in Libanon ontplof het. ‘n Senior Libanese veiligheidsbron het aan Reuters gesê die Israeliese Mossad-spioenasie-agentskap het plofstof in vyf-duisend toestelle geplant wat die groep ingevoer het. Associated Press berig die ontploffings het minstens nege mense se dood veroorsaak, insluitend ‘n agt-jarige meisie. Byna drie-duisend mense is gewond, onder andere Iran se ambassadeur in Libanon. Hezbollah het beloof om wraak te neem teen Israel, wie se weermag geweier het om kommentaar te lewer oor die ontploffings.
# Boks: Die wêreld-swaargewigkampioen, Oleksandr Usyk, is vrygelaat nadat hy vlugtig aangehou is by die Krakow-lughawe in Pole. Die Oekraïner is verfilm terwyl hy in boeie was, omring deur beamptes in uniform. President Volodymyr Zelensky was woedend oor die polisie se houding teenoor Usyk en het ‘n ondersoek beveel. Usyk is onoorwonne en word as die wêreld se beste swaargewig beskou. In Mei het hy die Britse bokser, Tyson Fury, geklop om die eerste onbetwiste kampioen sedert Lennox Lewis in 2000 te word. Usyk word beskou as ‘n Oekraïense nasionale held en inspirasie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-53-sent teen die dollar, 19-rand-52-sent teen die euro en 23-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-957-dollar-32-sent. Die prys van goud is twee-duisend-578-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-5-sent per vat.
# En ten slotte: Twaalf entrepreneurs van Suid-Afrika, Malawi en Lesotho sal hul kreatiewe bedryfs-ondernemings by die gesogte Création Africa Days in Parys ten toon stel. Die geleentheid beklemtoon innovering in volhoubare mode, videospeletjies en meer. Dit is die hoogtepunt van ‘n befondsings-inisiatief van Frankryk ter waarde van 24-miljoen-rand wat daarop gemik is om kreatiewe talent in Afrika te bevorder. Die finaliste sal in Oktober reis na Parys om hul werk by Europa se grootste sake- en beleggingsforum, BIG 2024, aan te bied.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….