Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 12 September 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Steenhuisen sê die DA sal die BELA-wetsontwerp uitdaag as dit kinderregte skend
# Krieket: Rashid Khan ingesluit in Afghanistan se groep vir drie eendagwedstryde teen die Proteas in die VAE
# En, Jon Bon Jovi word geloof nadat hy ‘n vrou oorreed om nie van ‘n brug te spring nie
# Die DA is van plan om die Wetsontwerp op Basiese Onderwyswette uit te daag as dit kinders se regte skend. DA-leier John Steenhuisen het aan die Kaapstadse Persklub gesê die party is gekant teen die wetgewing se potensiële invloed op die reg tot moedertaal-onderrig. Hy sê die DA sal alle regskanale volg om onderwysregte te beskerm as die wetsontwerp onveranderd bekragtig word:
Die Kaapse Forum moedig intussen alle gemeenskappe, veral Afrikaanssprekendes, aan om die Bela-wetsontwerp teen te staan, wat president Cyril Ramaphosa beplan om môre te onderteken. Hulle beplan om dit in die hof uit te daag, en doen voorspraak vir meer gemeenskapsbeheer en beter hulpbronverspreiding in die onderwys. Bernard Peters van die forum betoog die wetsontwerp bedreig onderwys-selfbestuur en -regverdigheid, en raak alle skole, wat dié in bruin gemeenskappe insluit:
# Die Inligtingsreguleerder sê hy kan nie groot sosiale mediamaatskappye soos X, Meta en Google verbied nie, ten spyte van hulle miskenning van Suid-Afrikaanse privaatheidswette. Die maatskappye beweer die Wet op Toegang tot Inligting is nie van toepassing op buitelandse instellings nie. Voorsitter Pansy Tlakula het tydens ‘n inligtingsvergadering daarop gewys dat alle maatskappye wat in die land sake doen, landswette moet gehoorsaam, maar die reguleerder het min ruimte vir wetstoepassing. Sy sê deur hierdie platforms te verbied, soos in Brasilië gebeur het, sal inbreuk maak op die reg tot vryheid van spraak.
# Krieket: Die briljante Afghaanse draaibouler Rashid Khan sal in dié maand se drie eendagwedstryde teen Suid-Afrika in die Verenigde Arabiese Emirate speel nadat hy die eenmalige toets teen Nieu-Seeland weens mediese raad misgeloop het. Hy herstel steeds van ‘n rugoperasie wat hy ondergaan het ná verlede jaar se eendagtoernooi in Indië. Die reeks teen die Proteas vind van Woensdag op die Sharjah-stadion plaas, wat die eerste in die wêreld sal word om 250 eendagwedstryde aan te bied.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-91-sent teen die dollar, 19-rand-77-sent teen die euro en 23-rand-40-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-719-dollar-99-sent. Die prys van goud is twee-duisend-536-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-59-sent per vat.
# En ten slotte: Die polisie het die rock-legende Jon Bon Jovi geprys omdat hy ‘n vrou oortuig het om nie van ‘n brug te spring in Nashville, Tennessee, nie. Die 62-jarige rock-ster was op die brug om ‘n musiekvideo te skiet. Sy span was besig om kameratoerusting op te stel toe hulle die vrou op die randjie gewaar. Bon Jovi het met haar begin praat. Polisiebeeldmateriaal wys hoe hy en nog ‘n vrou daarin slaag om die vrou van die randjie af te kry en na veiligheid te lei.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….