Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 September 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum is gereed om die BELA-wetsontwerp uit te daag sodra president Ramaphosa dit onderteken het
# Die Vereniging van Staatsamptenare kritiseer die Onderwysdepartement vir die besnoeiing van poste sonder raadpleging
# En, rugby: Die Springbok-vroue kom volgende week in Kaapstad teen Spanje te staan
# AfriForum is een van verskeie organisasies wat beplan om stappe te doen teen die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette as president Cyril Ramaphosa dit Vrydag onderteken. Die organisasie beskou die wetsontwerp as ‘n bedreiging vir Afrikaanse skole en kultuurgemeenskappe, wat skoolbeheerliggame se beheer oor toelatings en taalbeleid wegneem. Alana Bailey van AfriForum sê hul regspan kyk na die saak:
# Die Vereniging van Staatsamptenare veroordeel die Departement van Basiese Onderwys se besluit om duisende onderwysposte te besnoei sonder samesprekings met vakbonde. Die vereniging waarsku die besnoeiings, veral in KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap, sal oorvol klaskamers vererger en druk op bronne plaas. Reuben Maleka van die vereniging vra die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, om die besluit te heroorweeg en gesprekke met vakbonde te voer vir volhoubare oplossings:
Die departement sê intussen hy stel omvattende maatreëls in om geslagsgeweld te bekamp en maatskaplike samehorigheid in skole te bevorder. Dit sluit in omvattende seksonderrig, toegang tot reproduktiewe gesondheidsdienste en die onderwysbeweging vir meisies en seuns om geslagsgelykheid te bevorder. Terence Khala van die departement sê hulle werk saam met verskeie departemente en agentskappe om beleid in te stel en gemeenskappe te betrek om geslagsgeweld te bekamp:
# Die Lughawensmaatskappy Suid-Afrika het dividende van 816-miljoen-rand verklaar. Dit sluit in 768-miljoen-rand vir voorkeuraandele en 48-miljoen-rand vir gewone aandele, wat dit ‘n besondere finansiële mylpaal maak. ACSA is nou een van slegs enkele maatskappye in staatsbesit wat dividende uitbetaal. Volgens die maatskappy het ʼn strategiese fokus op die diversifisering van inkomste, operasionele doeltreffendheid en infrastruktuurbeleggings bygedra tot die sukses. Dit plaas ACSA in ‘n posisie vir voortgesette groei en waardeskepping in die finansiële jaar 2023/’24.
# Rugby: Die Springbok-vroue pak Spanje volgende Donderdag in die Kaapstad-stadion. Dit volg op hulle skitterende vertoning op dieselfde veld verlede naweek toe hulle die Barbarians 59-17 geklop het in ‘n voorwedstryd vir die Rugbykampioenskapstoets tussen hulle manlike eweknieë en die All Blacks. Die vroue sal volgende week se wedstryd gebruik as voorbereiding vir die tweede uitgawe van die Vroue Vyftien-toernooi, wat aan die einde van die maand begin. Afskop in Kaapstad is die middag vyf-uur.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-91-sent teen die dollar, 19-rand-74-sent teen die euro en 23-rand-41-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-77-dollar-28-sent. Die prys van goud is twee-duisend-510-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-19-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….