Nuus 17:00
BULLETIN 5 Augustus 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA stel ‘n wetsonwerp voor wat afgedankte ampsdraers sal verhoed om openbare poste te beklee
# ‘n Vierde verbrande vroue-liggaam word in Silvertondale, Pretoria, ontdek
# En 49 mense sterf in ‘n aanval op ‘n kerk in die ooste van die DRK
# Die DA het ’n Privaatlede-wetsontwerp voorgestel om te voorkom dat afgedankte ampsdraers weer ‘n openbare amp kan beklee. Die wetsontwerp wil die Grondwet wysig om afgedankte regters en voormalige hoofde van Hoofstuk Nege-instellings wat weens wangedrag verwyder is, te verhinder om lede van die Parlement, provinsiale wetgewers of munisipale rade te word. Die publiek het tot 31 August om kommentaar in te dien by die Nasionale Vergadering. Glynnis Breytenbach van die DA sê om sulke persone toe te laat om te dien, ondermyn openbare vertroue in staatsinstellings.
# Die Gautengse polisie het ‘n soektog van stapel gestuur na die moordenaars nadat ‘n vierde verbrande vroueliggaam in Silvertondale, Pretoria, ontdek is. ‘n Polisiewoordvoerder, Brenda Muridili, sê die polisie is ontbied en het die liggaam by die Watloo-treinstasie ontdek. Sy sê drie verbrande liggame is tussen Junie en Julie vanjaar in die omgewing van die Watloo- en die Denneboom-stasie gevind:
# Vier verdagtes is doodgeskiet in ‘n skietgeveg met die polisie in Randfontein, wes van Johannesburg. Die waarnemende Gautengse polisiekommissaris, Fred Kekana, sê die groep was na bewering van plan om ‘n sakeroof te pleeg toe beamptes ‘n intelligensie-wenk ontvang het. Kekana het bevestig die verdagtes wou ‘n man beroof wat op pad was om ‘n groot som geld te deponeer. Hy sê die ondersoek is steeds aan die gang:
Nuus uit die buiteland:
# Open Doors Southern Africa het ‘n wrede aanval op ‘n Katolieke Kerk in die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo veroordeel. Ten minste 49 mense, insluitende nege kinders, is vermoor. Gewapende mans, vermoedelik gekoppel aan die ISIS-ondersteunde Allied Democratic Forces-groep, het aanbidders gedurende ‘n nagwaak in die Ituri-provinsie met kapmesse aangeval en hulle huise en die kerk aan die brand gesteek. Elizabeth Botha van die organisasie sê meer as 20 kinders is ook ontvoer.
# Sokker: ‘n Chinese span is vir twee jaar verbied om aan Asiatiese kompetisies deel te neem nadat hy in Februarie nie by ‘n belangrike wedstryd opgedaag het nie. Die Superliga-span Shandong Taishan is vroëer ook uit die Kampioeneliga geskop toe hy slegs ure voor ‘n wedstryd teen die Suid-Koreaanse span, Ulsan, onttrek het. Die Asiatiese beheerliggaam het die klub met 900-duisend-rand beboet en hy moet Ulsan ook vergoed vir skade en verliese. Shandong het verduidelik dat hy weens ernstige gesondheidsredes nie ‘n span kon saamstel nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-99-sent teen die dollar, 20-rand-76-sent teen die euro en 23-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-124-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-369-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-68-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….