Nuus 17:00
BULLETIN 27 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Afrika moet geleenthede skep om migrasie te verminder
# Die Madlanga-kommissie ondervra Andrea Johnson oor die goedkeuring vir dagvaardings
# En, die Gautengse Onderwysdepartment moedig ouers aan om vroegtydig aansoek te doen vir skooltoelating vir 2027
# President Cyril Ramaphosa sê Afrikalande moet meer ekonomiese geleenthede skep, staatsbestuur verbeter en konflik oplos om migrasie aangevuur deur noodsaaklikheid te verminder. Hy het in Midrand, Gauteng, aan die Pan-Afrika-parlement gesê migrasie moet regverdig bestuur word met die beskerming van menswaardigheid en die oppergesag van die reg. Ramaphosa het Afrikalande aangespoor om saam te werk en ‘n vasteland te bou waar mense uit keuse migreer eerder as uit wanhoop:
# Die Madlanga-kommissie het die hoof van die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie, Advokaat Andrea Johnson, uitgevra oor haar goedkeuring van dagvaardings vir die veiligheidsklaringsrekords van Misdaadintelligensie. Kommissaris Sesi Baloyi wou weet of Johnson die name op die dagvaardings onafhanklik nagegaan het, of op ondersoekers se inligtingsessies staatgemaak het voor sy die dokumente onderteken het. Johnson sê sy het vertrou op die inligting wat aan haar voorgelê is. Baloyi het egter gewaarsku die magtigingsproses kon kwesbaar wees vir misbruik of manipulasie indien daar uitsluitlik op ondersoekers se inligting vertrou is sonder om dit onafhanklik na te gaan:
# Die GOOD-party sê die DA moet verduidelik waarom hy toegelaat is om Kaapstad se amptelike raadsaal vir ‘n interne party-politieke vergadering te gebruik. Die metro se raad hou steeds sy amptelike vergaderings aanlyn. Sandra Dickson van die GOOD-party sê dit skep ʼn buitengewone teenstrydigheid. Sy sê dit lyk asof die DA fisiese toegang tot die raadsaal het vir interne aktiwiteite, maar nie die opposisie se raadslede en die demokratiese instelling van die raad nie:
# Die Gautengse Onderwysdepartement het aangekondig aanlyn aansoeke vir Graad 1- en Graad 8-toelatings vir die 2027 akademiese jaar sal om agt-uur op 5 Augustus open en om middernag op 4 September sluit. Woordvoerder Onwabile Lubhelwana sê ouers en wettige voogde moet aansoek doen deur die Gautengse Aanlyn Toelatingsstelsel en binne sewe skooldae ondersteunende dokumente indien. Hy het ouers aangemoedig om vroegtydig aansoek te doen, akkurate inligting te verskaf en tussen drie en vyf skole te kies om plasingsgeleenthede te verbeter.
# Motorsport: Formule Een het Maleisië by vanjaar se skedule gevoeg as gasheer van die Bahreinse Grand Prix. Die voortdurende konflik in die Midde-Ooste het gelei tot die kansellasie van April se wedrenne in Bahrein en Saoedi-Arabië. Die Bahreinse Grand Prix in Maleisië sal van 2 tot 4 Oktober op die Sepang-internasionale renbaan plaasvind. F1 se president, Stefano Domenicali, sê die sport het weereens sy vermoë getoon om aan te pas en oplossings te vind. Daar is nou 23 wedrenne op die rooster.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-75-sent teen die dollar, 19-rand-7-sent teen die euro en 22-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-14-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-83-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 92-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….