Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 September 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Transnet kondig ‘n toename van 43-persent in jaarverliese aan te midde van regs- en finansiële uitdagings
# Die DA eis optrede oor die smokkel van verbode goedere in Suid-Afrikaanse tronke
# En, rugby: Die Bokke versterk hulle nommer een-posisie met die oorwinning oor die All Blacks
# Transnet het ‘n toename van 43-persent aangekondig in jaarverliese, wat altesaam 7,3-miljard-rand bedra in die jaar wat in Maart geëindig het. Daar was verbeterings in sy bedryf, en groter volumes, maar Transnet is onder finansiële druk weens ‘n uitspraak van nege-miljard-rand ten gunste van Sasol en TotalEnergies oor beweerde oordadige pyplyntariewe en ‘n voorsiening van 1,6-miljard-rand vir vat-of-betaalboetes. Transnet appelleer teen die uitspraak terwyl hy toegespits is op sy herstelplan, en teiken vanjaar ‘n wins van ‘n miljard-rand.
# Die DA het kommer uitgespreek oor die voortgesette smokkel van verbode goedere in Suid-Afrikaanse tronke, met 13 amptenare wat ondersoek word. Die DA se woordvoerder oor Korrektiewe Dienste, Janho Engelbrecht, sê ondanks toenemende klopjagte sypel items soos dwelms steeds die inrigtings binne. Hy vra gevolgebestuur en aanspreeklikheid vir diegene wat betrokke is:
# Die Gautengse LUR vir Finansies en Ekonomiese Ontwikkeling, Lebogang Maile, lig die provinsie se leidende rol uit in Suid-Afrika se toerismebedryf. Hy het die Toerismemaandprogram uiteengesit en opgemerk dat Gauteng 44-persent van die land se internasionale aankomste lok. Maile verduidelik die provinsie verwelkom ongeveer 3,9-miljoen besoekers en hulle veiligheid word voorop gestel:
# Rugby: Die Springbokke het hulle posisie boaan die wêreldranglys versterk met Saterdag se oorwinning van 31-27 oor hulle aartsvyande, die All Blacks, op Ellispark. ‘n Nederlaag sou beteken Ierland is boaan die ranglys, maar Suid-Afrika geniet nou ʼn voorsprong van 1,25 ranglyspunte. Nieu-Seeland is steeds derde en Frankryk vierde, gevolg deur Engeland, Argentinië en Skotland. Die Wallabies het Italië in die agste plek vervang nadat hulle Argentinië in La Plata verslaan het. Fidji is op nommer 10.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-87-sent teen die dollar, 19-rand-78-sent teen die euro en 23-rand-48-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-455-dollar-65-sent. Die prys van goud is twee-duisend-500-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-93-sent per vat.
# En ten slotte: ʼn Groot gedeelte van die ikoniese handreling op die boeg van die Titanic het een of ander tyd die afgelope twee jaar afgebreek en lê nou op die seebodem. Jack en Rose het die boeg van die skip verewig in die beroemde fliektoneel, maar ʼn reeks onderwater-besoeke deur robotte toon nou hoe die wrak na meer as 100 jaar onder water verander het. Die skip het in April 1912 gesink na ‘n botsing met ʼn ysberg, en sy finale rusplek is drie-duisend-800-meter onder seevlak. Een-duisend-500 passasiers en bemanningslede is in die tragedie dood.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….