Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 29 Augustus 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê die tyd is nie reg vir ‘n soewereine welvaartsfonds in Suid-Afrika nie
# Parool is geweier vir die Griekwastad-moordenaar
# En, rugby: Scott Robertson besef Ellispark is een van die Bokke se vestings
# President Cyril Ramaphosa sê dis nie nou die regte tyd vir ‘n soewereine welvaartsfonds in Suid-Afrika nie. Die president het gereageer op die voorsitter van die parlement se staande komitee oor Finansies, Joseph Maswanganyi. Hy verduidelik terwyl so ‘n fonds die ekonomie kan bevoordeel, sluit huidige voorkeure in die hervorming van ondernemings in staatsbesit om die toekomstige sukses van die fonds te verseker:
# Die Griekwastad-moordenaar is parool geweier. Hy was maar net 15 toe hy sy ouers, Deon en Christel Steenkamp, en 14-jarige suster, Marthella, in 2012 in hulle Noord-Kaapse plaashuis vermoor het. Die Hooggeregshof het hom later gevonnis tot 20-jaar gevangenisstraf op elkeen van die moordaanklagte, 12-jaar vir die verkragting van Marthella en vier-jaar vir regsverydeling. Hy mag nie geïdentifiseer word nie want hy was destyds minderjarig. Volgens Korrektiewe Dienste het hy die voorgeskrewe tyd uitgedien, maar wou nie besonderhede verskaf oor waarom parool geweier is nie.
# Defend Our Democracy en ander burgerregtegroepe het betoog buite die hoofkantoor van die Inkomstediens in Pretoria, met die kollig op die toenemende geweld teen fluitjieblasers. Dit sluit die onlangse sluipmoordpoging in op Coreth Naudé, wat dit oorleef het terwyl sy ‘n Inkomstediens-korrupsiesaak ondersoek het. Phumla Williams van die Ahmed Kathrada-stigting sê die betoging is in solidariteit met diegene wat hulle lewens op die spel plaas vir geregtigheid:
# Altesaam 133 ondernemings het hulle deure in Julie gesluit wat die jaar-tot-datum-totaal op 892 likwidasies te staan bring. Volgens Statistieke SA is die sektore wat die hardste getref is finansies, versekering, eiendomme, sakedienste, handel, spyseniering en verblyf. Ten spyte van die sluitings was daar minder sluitings in 2024 as in 2023, met ‘n jaar-tot-jaar-daling van vyf-persent in Julie. Volgens die hoof opnamestatistikus, Onica Mushwana, kan die sluitings tot aansienlike werksverliese lei.
# Rugby: Die hoofafrigter van die All Blacks, Scott Robertson, besef sy manne sal koelkop moet bly in Saterdag se Rugbykampioenskaps-wedstryd teen die Springbokke op Ellispark. Nieu-Seeland wil wraak neem nadat hulle verlede jaar in die Wêreldbeker-eindstryd teen Suid-Afrika vasgeval het. Die Springbokke is boaan die punteleer na twee oortuigende oorwinnings oor Australië terwyl die Kiwi’s gemengde welslae teen Argentinië behaal het. Volgens Robertson is die stadion in Johannesburg een van die gashere se vestings:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-72-sent teen die dollar, 19-rand-65-sent teen die euro en 23-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-397-dollar-32-sent. Die prys van goud is twee-duisend-511-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-19-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….