Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 Augustus 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Tshwane se burgemeester versoek ActionSA om verbind te bly te midde van koalisie-onsekerheid
# Die IVP in Tshwane is tevrede met die DA-geleide koalisie terwyl die ANC die metro wil terugwen
# En, rugby: Eben Etzebeth is terug vir die Bokke vir die eerste toets teen die All Blacks
# Tshwane se burgemeester, Cilliers Brink, versoek ActionSA om sy steun aan die DA-geleide koalisie te herbevestig. Dit volg op die party se afwesigheid tydens ‘n belangrike mediavoorlegging deur die koalisieregering vanmiddag. Volgens Brink is dit onseker of ActionSA môre die mosie van wantroue teen hom sal steun. Hy beklemtoon die sukses van die koalisie om Tshwane te verbeter, en hoop op voortgesette eenheid:
Ziyanda Zwane van die Inkatha Vryheidsparty sê intussen die party is tevrede met die DA-geleide koalisie in Tshwane, en lig sy prestasies sedert 2021 uit. Zwane onderstreep die steun van die IVP en hoop die DA-regering kan sy termyn voltooi ondanks teenstand wat opbou:
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement het die besnoeiing aangekondig van meer as twee-duisend onderwysposte van volgende jaar af weens ‘n begrotingstekort van 3,8-miljard-rand oor die volgende drie jaar. Die hoof van die departement, Brent Walters, sê hulle het net 64-persent van die koste van die openbare sektor-salarisooreenkoms gekry, en die departement moet die res befonds. Die departement het reeds die werwing van nie-onderwyspersoneel gestaak, asook besteding in al sy direktorate. Skole sal Vrydag hulle personeeltoekennings vir 2025 kry.
# Suid-Afrika se nuwe waterinfrastruktuuragentskap het die wetgewende groen lig gekry. Dit volg nadat president Cyril Ramaphosa die Wetsontwerp op die Nasionale Agentskap vir Waterinfrastruktuur-hulpbronne bekragtig het. Die nuutgestigte onderneming in staatsbesit sal waterinfrastruktuur bestuur en ontwikkel, asook aandag gee aan die fragmentering in waterhulpbronbestuur. As deel van hervormings van Operasie Vulindlela sal die nuwe wet grootmaat-waterinfrastruktuur uitbrei en verbeter, wat watersekerheid sal verseker en die regering se doelwitte sal steun om armoede uit te wis en volhoubare ontwikkeling te verseker.
# Rugby: Eben Etzebeth is terug in die Springbok-groep vir Saterdag se toets in die Rugbykampioenskap teen die All Blacks op Ellispark. Hy is aanvanklik uitgelaat weens ‘n knie-probleem. Etzebeth vervang Marco van Staden op die bank, terwyl Pieter-Steph du Toit en Ruan Nortjé die slotpaar is in die opdrafspan. Afrigter Rassie Erasmus het Steven Kitshoff, Manie Libbok, Canan Moodie en Makazole Mapimpi vrygestel om hierdie naweek Curriebekerrugby te speel. Etzebeth wil graag die rekord van 128 toetse gedurende die kampioenskap syne maak.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-77-sent teen die dollar, 19-rand-76-sent teen die euro en 23-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-896-dollar-91-sent. Die prys van goud is twee-duisend-506-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….