Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 Augustus 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa verseker die inwoners van Tsakane hulle bekommernisse sal aandag kry
# Spoorwegkenners pleit vir steun vir plaaslike goederevoertuie ten spyte van die hoër koste
# En, tennis: ‘n Taai loting wag op die wêreld nommer-een Jannik Sinner op die Amerikaanse Ope
# President Cyril Ramaphosa het die publiek op die presidensiële imbizo in Tsakane in Ekurhuleni, Gauteng, die versekering gegee daar word deeglik kennis geneem van hulle kommer, en dit sal deur die toepaslike ministers hanteer word. Ramaphosa sê die regering is daartoe verbind om die land se uitdagings die hoof te bied deur ‘n verenigde benadering, met al die kwessies wat geopper word wat gesamentlik gepak word deur die regering van nasionale eenheid:
# Kenners het op die Konferensie van die Suid-Afrikaanse Spoorwegvereniging by spoorwegoperateurs gepleit om plaaslik-vervaardigde goederevoertuie aan te skaf. Die uitvoerende hoof van Eswatini Railways, Stephenson Ngubane, het verwys na die streek se vervaardigingsvermoë, maar goedkoper buitelandse alternatiewe word steeds ingevoer. Marvin Chetty van Amsted Reelin meen gehalte regverdig die koste en het gewaarsku korttermyn besparings kan lei tot langtermyn uitgawes. Die paneel het ook die belangrikheid bespreek van projekbeplanning en volhoubare befondsing en ook die risiko’s van verwaarloosde langtermyn instandhouding en gehalte beklemtoon.
# Die voorsitter van die SABC-raad, Khathu Ramukumba, verwerp gerugte van nog ‘n Artikel 189-afleggingsproses en sê sulke gesprekke vind nie plaas nie. Artikel 189 is in 2021 ingestel en meer as 600 werknemers is afgelê. Ramukumba het die raad se verbintenis tot die sukses van die openbare uitsaaier herbevestig. Hy beklemtoon ook die bestaande TV-lisensiebestel gaan voort en wys op die belangrikheid vir die groep se befondsing:
# Sewe mense is dood en twaalf beseer nadat ‘n brand by ‘n hotel in die Suid-Koreaanse stad Bucheon uitgebreek het. Twee mense is dood nadat hulle uit die vensters op ‘n lugmatras gespring het. Die matras is deur die brandweer verskaf maar het omgeslaan. Ander slagoffers is in kamers op die agtste vloer gevind waar die brand vermoedelik weens ‘n elektriese fout ontstaan het. Volgens die stad se brandweerdepartement is die nege-verdieping hotel in 2003 gebou voor dit wet geword het om sproeiers te installeer.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een en topgekeurde, Jannik Sinner, het ‘n taai loting vir die Amerikaanse Ope wat Maandag in New York begin. Die Italianer kom dalk in die vierde ronde teen die 14de-gekeurde Amerikaner Tommy Paul te staan, in die kwarteindronde teen 2021 se kampioen, Daniil Medvedev van Rusland, in die halfeindronde teen die derde-gekeurde Spanjaard Carlos Alcaraz, en in die eindstryd teen die verdedigende kampioen, Novak Djokovic van Serwië. Sinner is ook gekritiseer na die onthulling dat hy onskuldig bevind is nadat hy in Maart twee keer positief getoets het vir opkikkers.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-95-sent teen die dollar, 19-rand-96-sent teen die euro en 23-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-58-dollar-2-sent. Die prys van goud is twee-duisend-502-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….