Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 22 Augustus 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF se gewese adjunkpresident, Floyd Shivambu, lei die MK-party se organiseringspogings
# Die kabinet steun pogings om onwettige immigrasie en misdaadsindikate by grensposte te keer
# En, krieket: Die Proteas pak die Windies in drie T20’s in Tarouba
# Die voormalige adjunkpresident van die EFF, Floyd Shivambu, is aangestel as nasionale organiseerder van die MK-party. Hy sal pogings lei om partystrukture reg oor die land te stig en uit te brei. Die sekretaris-generaal, Sfiso Maseko, het op ‘n nuuskonferensie gesê die party wil sy politieke teenwoordigheid versterk en voorberei vir toekomstige verkiesings. Hy sê Shivambu se leierskap sal toegespits wees op organiseringsontwikkeling en steunwerwing:
# Die kabinet het sterk steun uitgespreek vir voortgesette pogings om onwettige immigrasie te bestry en misdaadsindikate af te takel wat by Suid-Afrika se grensposte werk. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het die media toegespreek en gesê die regering versterk sekerheidsmaatreëls en werk nou saam met buurlande teen die uitdagings. Ntshavheni moedig ook voortgesette samewerking aan tussen wetstoepassingsagentskappe om doeltreffend op te tree teen oorgrensmisdade:
# Die South African Refugee Led Network Advocacy Commission is ontsteld na Dinsdag se stormloop deur asielsoekers by die Vlugtelinge-verwelkomingsentrum in Tshwane waarin een persoon dood en minstens 20 beseer is. Die kommissie versoek die Departement van Binnelandse Sake om hervormings in te stel, insluitend gestruktureerde toustaanstelsels, verbeterde kommunikasie, verhoogde sekerheid, integrering van tegnologie en betrokkenheid van die gemeenskap. Die kommissie het medelye oorgedra aan families wat geraak word en sal emosionele steun verskaf aan diegene wat geraak is deur die tragedie.
# Everest Wealth moedig die Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee aan om met ‘n siklus rentekoers-verlagings te begin na Julie se laer as verwagte inflasiekoers van 4,6-persent. Die hoof van Raadgewende Dienste, Riaan Grobler, stel vier agtereenvolgende dalings voor, met ‘n algehele vermindering van een persentasiepunt teen Maart. Hy betoog dit kan ekonomiese groei stimuleer, druk op verbruikers verlig en besteding aanmoedig, veral met inflasie wat terug is binne die bank se teikenreeks.
# Krieket: Die eerste van drie T20’s tussen die Proteas en die Windies word môre in Tarouba gespeel. Dit volg op die toetsreeks wat Suid-Afrika 1-nul gewen het nadat reën die eerste toets ontwrig het. Die tweede T20 word Sondag gespeel en die laaste een Dinsdag – albei ook in Tarouba. Die Proteas se witbal-afrigter, Rob Walter, sê die reeks is ‘n belangrike deel van die span se reis na die volgende Wêreldbeker-eindstryd:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-96-sent teen die dollar, 20-rand teen die euro en 23-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-873-dollar-35-sent. Die prys van goud is twee-duisend-496-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….