Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 Augustus 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In hierdie bulletin:
# Minister Schreiber waarsku die papier-stelsels by Binnelandse Sake hou ‘n nasionale veiligheidsbedreiging in
# Qatar Airways verkry ‘n 25-persent aandeel in Airlink
# En, rugby: Israel Dagg glo die All Blacks kan die Springbokke klop mits hulle skrums en lynstane verbeter
# Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, het die Parlement gevra om die digitale oorgang van sy departement te steun om nasionale veiligheid te verseker. Hy het voor die parlementêre komitee op Binnelandse Sake gewaarsku ouderwetse, papier-gebaseerde stelsels maak die departement kwesbaar vir bedrog, korrupsie en identiteits-diefstal. Schreiber glo slegs ‘n benadering wat digitale stelsels vooropstel, kan die kwessies oplos, dienslewering verbeter en verdere bedreiging vir staatsveiligheid verhoed:
# Die Qatar Airways-groep het ‘n 25-persent aandeel verkry in Suider-Afrika se voorste onafhanklike streeksredery, Airlink. Die belegging versterk ‘n kodedeel-vennootskap tussen die twee rederye, en steun Qatar Airways se Afrika-groeistrategie. Airlink, wat in 15 Afrikalande vlieg, sal baat by verhoogde vermoë en ‘n uitgebreide markbereiking. Die Katarse redery se uitvoerende hoof, Badr Mohammed Al-Meer, beklemtoon Afrika se belangrikheid vir hulle onderneming. Airlink se uitvoerende hoof, Rodger Foster, loof die ooreenkoms as ‘n hupstoot vir sy maatskappy se groei en vennootskappe.
# Die Europese skoonenergie-voorstandersgroep, Transport and Environment, waarsku oor die omgewingsuitwerking van die snelgroeiende wêreldwye passasiersbootbedryf. Die grootste passasierskepe wat teen 2050 te water gelaat kan word, kan byna agt keer groter wees as die Titanic. Passasierskepe en ander vaartuie is glo verantwoordelik vir byna drie-persent van wêreldwye gasvrystellings elke jaar. Die Transport and Environment-groep sê die spoed waarteen die passasiersbootbedryf floreer, kom teen ‘n prys vir die omgewing.
# Rugby: Die voormalige All Black-heelagter, Israel Dagg, glo sy span kan die Springbokke klop mits hulle twee fasette regstel. Die twee ou vyande meet kragte in die Rugbykampioenskap op Ellispark op die 31ste en Kaapstad ‘n week later. Suid-Afrika het in die eerste twee rondes beïndruk met twee bonuspunt-oorwinnings oor die Wallabies terwyl Nieu-Seeland gemengde welslae teen Argentinië behaal het. Dagg glo die All Blacks kan wen indien hulle met die wêreldkampioen kan saampraat in die skrums en lynstane.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-80-sent teen die dollar, 19-rand-76-sent teen die euro en 23-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-421-dollar-50-sent. Die prys van goud is twee-duisend-524-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-50-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Akademikus aan die Universiteit van Pretoria, Taneshka Kruger, doen ‘n beroep op die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap om die vele uitdagings wat malaria inhou, gesamentlik aan te pak. Dit is vandag Wêreld-muskietdag. Kruger sê die muskiet is die dodelikste ‘dier’ in die wêreld en maak elke jaar meer as 700-duisend mense dood:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….