Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 16 Augustus 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika se kernkragplanne word aan bykomende openbare raadpleging onderwerp
# Amcu betreur die gebrek aan toerekenbaarheid 12 jaar na die Marikana-slagting
# En, gemengde gevegskuns: Kaapstad se burgemeester beloof ‘n UFC-geveg as Dricus du Plessis vir Israel Adesanya klop
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê Suid-Afrika se planne met kernkrag sal aan bykomende openbare raadpleging onderwerp word. Hy het die media ingelig ‘n vorige plasing in die Staatskoerant oor die kernkragbouprogram word herroep om meer tyd toe te laat vir insette deur die publiek om regsuitdagings aan te pak en deursigtigheid te verbeter. Volgens Ramokgopa behels die hersiene proses uitgebreide insette deur die publiek om groter aanspreeklikheid te verseker in die verkryging van die kernkragprogram van twee-duisend-500-megawatt:
# Die mynwerkersvakbond Amcu kritiseeer die gebrek aan toerekenbaarheid 12-jaar na die Marikana-slagting waarin 34 mense dood en 78 beseer is. Amcu se president, Jospeh Mathunjwa, sê hoewel die Farlam-kommissie in 2014 na ‘n koste van 150-miljoen-rand sy taak afgehandel het, is niemand nog aanspreeklik gehou nie. Hy sê geregtigheid bly ontwykend, en vra dringende hervormings aan die land se wetstoepassingstelsel:
# Kenners van die Verenigde Nasies het Zimbabwe versoek om drie menseregte-aktiviste vry te laat. Namatai Kwekweza, Robson Chere en Samuel Gwenzi is op 31 Julie aangekeer weens ondersteuning van opposisieleier Jameson Timba, wat tronk toe gestuur is. Die aktiviste is glo sonder enige kontak met die buitewêreld aangehou, gemartel en aangekla van wanordelike gedrag, wat die kenners as ongegrond beskryf. Zimbabwe gaan die naweek die beraad van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap aanbied. Human Rights Watch en Amnestie Internasionaal het by die regering geëis om die aktiviste vry te laat.
# Drie burgerlikes is die afgelope 24-uur dood en vyf gewond in Russiese aanvalle in die oostelike Donetsk-streek in Oekraïne, nadat Moskou se magte pogings verskerp het om die stad Pokrovsk te bereik. Donetsk word gedeeltelik deur Russiese soldate beset en word gereeld geteiken. Oekraïne glo die verowering van die streek is van die uiterste belang vir Moskou. Russiese magte het dié week hulle aanvalle op die front by Pokrovsk verskerp nadat Oekraïnse magte Woensdag ‘n verrassingsaanval geloods en 35-kilometer in die Kursk-streek in Rusland inbeweeg het.
# Gemengde gevegskuns: Die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, het hom verbind tot die aanbieding van ‘n UFC-geleentheid in die stad indien Dricus du Plessis sy wêreldtitel teen Israel Adesanya suksesvol verdedig. Hulle kom Sondag 6:30 Suid-Afrikaanse tyd in Perth, Australië, teen mekaar te staan. Du Plessis het die middelgewigtitel in Januarie verower met ‘n oorwinning oor Sean Strickland in Toronto en die eerste Suid-Afrikaner geword om ‘n UFC-kampioenskap in te palm. Die UFC se president, Dana White, het aangedui die organisasie kan dalk ‘n geleentheid in Suid-Afrika oorweeg.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-89-sent teen die dollar, 19-rand-68-sent teen die euro en 23-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-740-dollar-8-sent. Die prys van goud is twee-duisend-487-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….