Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 12 Augustus 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# BOSA stel ‘n versoekskrif bekend vir openbare toegang tot ‘n register vir seksuele oortreders
# Die DA versoek die minister van Gesondheid om die Gautengse kankerbehandelingskrisis op te los
# En, sokker: Tottenham se middelveldspeler is in die moeilikheid oor die gebruik van lag-gas
# Build One South Africa het ‘n landwye versoekskrif van stapel gestuur wat ‘n beroep doen vir die openbaarmaking van die nasionale register vir seksuele oortreders, asook makliker toegang. Die party voer aan die huidige proses om toegang te kry, wat ‘n fooi van 150-rand en ‘n wagtydperk van ses weke behels, verhoed deursigtigheid en aanspreeklikheid. BOSA se adjunk-leier, Nobuntu Hlazo-Webster, het aan Newzroom Afrika gesê sy glo openbare toegang is noodsaaklik vir gemeenskapsveiligheid en die afskrikking van seksuele oortreders:
# Die DA versoek die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, om die lewensbedreigende krisis met kankerbehandeling in Gauteng op te los. Volgens die party wag meer as twee-duisend-600 pasiënte in die provinsie op behandeling, met heelwat wie se toestand kan vererger en hulle kans op oorlewing beïnvloed. ‘n Woordvoerder, Jack Bloom, sê die Departement van Gesondheid het verlede jaar versuim om die 250-miljoen-rand aan te wend wat vir kankerbehandeling begroot is, en dit het die agterstand vererger:
# Oekraïne en Rusland beskuldig mekaar oor ‘n brand wat gister by die verkoelingstorings van die reuse Zaporizhzhia-kernkragstasie uitgebreek het. Oekraïne se president, Volodimir Zelensky, sê Russiese magte het die brand gestig by die aanleg, wat nou al meer as twee jaar lank deur Moskou se magte beset word. Zaporizhzhia se goewerneur, wat deur Rusland aangestel is, het gesê ‘n Oekraïnse aanval het die brand laat ontstaan. Daar is die afgelope twee jaar geen krag opgewek nie en die ses reaktors is sedert April afgesluit.
# Sokker: Tottenham se middelveldspeler, Yves Bissouma, het verskoning gevra en erken sy oordeel het hom in die steek gelaat nadat hy verfilm is waar hy stikstof-oksied inasem. Bissouma het ‘n video op sosiale media gelaai waarin hy die Klas C-dwelm, bekend as lag-gas, uit ‘n ballon inasem. Die klub gaan die internasionale speler van Mali intern ondersoek en hy kan ‘n straf opgelê word vir sy optrede. Die besit van stikstof-oksied vir ontspannings-doeleindes is sedert verlede jaar ‘n strafregtelike oortreding in Brittanje en kan tot tronkstraf lei.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-19-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 23-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-594-dollar-96-sent. Die prys van goud is twee-duisend-444-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-50-sent per vat.
# En ten slotte: SANParke vier vandag Wêreld-olifantdag en beklemtoon die rol van wetenskaplike inligting in die bestuur van gesonde olifantbevolkings. Die herdenking fokus op habitatbestuur en die versagting van konflik tussen mens en natuurlewe. SANParke se woordvoerder, JP Louw, sê Suid-Afrika is die tuiste van sowat 44-duisend olifante. Hy sê SANparke bestuur 75-persent van hierdie olifante met vernuwende oplossings om die uitdagings van interaksie tussen mense en olifante aan te pak:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….