Nuus 17:00
BULLETIN 1 Augustus 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Bedrywighede by FlySafair sal ten volle na normaal terugkeer nadat die vlieënier-staking beëindig is
# KwaZulu-Natal se premier loof die taakspan oor politieke moorde na inhegtenisnemings
# En swem: ‘n Goeie dag vir Suid-Afrika op die Watersport-wêreldkampioenskap in Singapoer
# FlySafair het die einde van die vlieënierstaking bevestig nadat ‘n formele ooreenkoms met die vakbond Solidariteit bereik is. Die lugredery se bedrywighede sal ten volle na normaal terugkeer, wat na verwagting sal help om kaartjiepryse te verlaag. Vlieëniers het salarisaanpassings en ‘n nuwe roosterstelsel geëis wat meer rustyd en beter verlofvoordele insluit. FlySafair se hoofbemarkingsbeampte, Kirby Gordon, sê ‘n terugkeer na gewone bedrywighede sal help om vliegkaartjies bestendig te kry en reise meer bekostigbaar te maak:
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê die uitkoms van die Madlanga-kommissie van ondersoek sal gevolge hê en ‘n invloed op president Cyril Ramaphosa se besluit oor die leierskap van die ministerie. Hy is vanoggend ingehuldig terwyl Senzo Mchunu op spesiale verlof is. Cachalia het buite die Uniegebou verduidelik dat daar in die Grondwet geen voorsiening gemaak word vir ‘n waarnemende minister nie. Hy het sy volle toewyding aan die rol beloof solank hy die amp beklee:
KwaZulu-Natal se premier, Thamsanqa Ntuli, het intussen die taakspan oor politieke moorde en die provinsiale polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, geloof vir hul volgehoue pogings om misdaad te bekamp en gemeenskappe veilig te hou. Dit volg na ‘n reeks inhegtenisnemings in die moordsake van die ANC-Jeugliga se sekretaris-generaal, Sindiso Magaqa, die DA-raadslid Nhlayenza Mdlovu, en KwaDukuza se munisipale beampte, Nokulunga Happiness Mashabane. Die premier se woordvoerder, Lindelani Mbatha, sê dis ʼn duidelike boodskap aan misdadigers dat hulle nie kan wegkruip nie:
# Die Suid-Afrikaanse vervaardigingsektor het die eerste keer in nege maande tekens van herstel getoon. Die Absa-aankoopbestuurders-aanwysers het in Julie tot 51 punte gestyg vergeleke met 49 in Junie, wat ‘n geringe groei in vervaardigings-bedrywighede aandui. Nuwe bestellings het tot 56 punte gestyg, meestal gedrewe deur sterk plaaslike aanvraag. Absa en die Buro vir Ekonomiese Navorsing waarsku dat die herstel onbestendig bly, met swakker vooruitsige vir groei en indiensneming. Die sektor word ook bedreig deur die nuwe Amerikaanse tariewe van 30-persent, wat uitvoere kan beïnvloed.
# Swem: Die Suid-Afrikaner Pieter Coetzé het ‘n silwermedalje in die 200-meter rugslag verower op die Wêreldwatersportkampioenskap in Singapoer wat hy by sy goue medalje in die 100-meter kan voeg. Dit was ‘n goeie dag vir Suid-Afrikaners met Kaylene Corbett wat ‘n bronsmedalje in die 200-meter borsslag verower het. Coetzé het weer ‘n Afrika-rekord opgestel, maar dit was nie goed genoeg om die Hongaar, Hubert Kos, daarvan te weerhou om die goue medalje met ‘n Europese rekord in te palm nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-1-sent teen die dollar, 20-rand-86-sent teen die euro en 23-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-557-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-350-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 71-dollar-34-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….