Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 Augustus 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……….
In die bulletin:
# Die Mej Suid-Afrika-deelnemer Chidimma Adetshina onttrek aan die kompetisie
# Die MK-party dank meer as 20 LP’s af
# En, rugby: Twee nuwelinge is in die Wallabies se wedstrydgroep vir die toets teen die Springbokke
# Die Mej Suid-Afrika-deelnemer, Chidimma Adetshina, het onttrek aan die kompetisie weens kommer oor haar familie se veiligheid. Die 23-jarige regstudent het haar besluit op Instagram bekendgemaak en haar dank uitgespreek vir die geleentheid en ondersteuning van die Mej Suid-Afrika-organisasie. Adetshina is ondersoek oor haar geskiktheid weens haar ouers se herkoms. Die Departement van Binnelandse Sake ondersoek identiteits-diefstal waarby haar ma betrek word, maar Adetshina is van alle betrokkenheid vrygespreek.
# Die MK-party het meer as 20 parlementslede afgedank, met baie wat oorbluf en kwaad is. Volgens News24 is hulle onkant betrap deur die stap en beweer dis ‘n poging van partyleiers om plek te maak vir hulle eie bondgenote. Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, het bevestig beëindigingskennisgewings is van die party se sweep, Sihle Ngubane, ontvang. Sommige lede is oortuig die partyleier, Jacob Zuma, is nie oor die besluit ingelig nie.
# Die kommissaris van die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor, Farzana Badat, glo Suid-Afrika het meer politieke wil nodig om van die gryslys afgehaal te word. Sy beklemtoon die belangrikheid van die bewys van politieke wil om te voldoen aan die vereistes van die Finansiële Aksietaakmag. Die land het tot Februarie om 22 sleutelkwessies te hanteer wat uitgewys is deur die taakmag, maar net agt is tot dusver afgehandel. Badat waarsku as daar nie gehou word by die spertyd nie, kan Suid-Afrika se reputasie en ekonomie skade ly.
# Die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies ondersoek die negatiewe gevolge van skielike onttrekking van vredesmagte en politieke sendings op die regte van vroue en kinders. Die raad het gedurende die vergadering, onder die voorsitterskap van Sierra Leone, gewys op skielike regeringsveranderings in Mali en Soedan, waar gasheer-regerings sendings gedwing het om te sluit. ’n Woordvoerder van VN Vroue, Sima Bahous, het op die belangrikheid van die insluiting van vroue gewys:
# Rugby: Carlo Tizzano maak Saterdag sy toetsdebuut vir die Wallabies in hulle Rugby Kampioenskaps-openingswedstryd teen die Springbokke in Brisbane. Tizzano speel aan die oopkant, terwyl sy medeflank, Luke Reimer van die bank af sy debuut kan maak. Allan Alaalatoa behou die kapteinskap. Die Wallabies se afrigter, Joe Schmidt sê hulle sal baie akkuraat moet wees teen die Bokke:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-36-sent teen die dollar, 20-rand-2-sent teen die euro en 23-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-984-dollar-23-sent. Die prys van goud is twee-duisend-404-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-26-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….