Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Augustus 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC gee toe sy ekonomiese beleid is swak in werking gestel
# Die Poskantoor soek privaat vennote om digitale en afleweringsdienste op te gradeer
# En, die Olimpiese Spele: ‘n Australiese hokkiespeler word in Parys aangekeer omdat hy na bewering probeer het om kokaïen te koop
# Die ANC sê sy ekonomiese beleid is goed, maar erken swak inwerkingstelling strem vordering. Dit volg nadat die Wêreldbank Suid-Afrika aangewys het as die wêreld se ongelykste samelewing, met werkloosheid wat toeneem. Die hoof van die ANC se ekonomiese transformasiekomitee, Mamoloko Kubayi, sê die vinnige bevolkingsgroei is ‘n groter uitdaging as behuising en infrastruktuur. Sy het die behoefte beklemtoon aan data-gedrewe besluitneming om die doeltreffendheid van beleid op te skerp.
# Die Suid-Afrikaanse Poskantoor soek privaat vennote om sy digitale en afleweringsdienste op te gradeer. Dit vorm deel van die regering se plan om ‘n inspuiting van privaat kapitaal in instellings in staatsbesit te bewerkstellig om die organisasie bestand te maak teen die toekoms. Die opgradering sluit in beperkte poskantoordienste by kleiner kleinhandelaars, hoofsaaklik in landelike gebiede waar Poskantoor-takke gesluit is. Ander opgraderings sluit in e-platforms en die opknapping van geboue.
# Hoofregter Raymond Zondo het oproepe herhaal vir benoemings om ‘n lank bestaande vakature in die Konstitusionele Hof te vul. Zondo se kantoor het drie benoemings ontvang, wat onvoldoende is vir ‘n kortlys. Benoemings moet teen 30 Augustus ontvang word en die onderhoude is in Oktober, tesame met benoemings vir die Appèlhof en die Wes-Kaapse Hooggeregshof. Zondo het beklemtoon hoe belangrik dit is om hierdie pos te vul:
# Die DA wil hê die aanvalle op maatskaplike werkers in die Wes-Kaap moet as aanvalle op die staat geklassifiseer word weens ‘n betekenisvolle toename in voorvalle. Die party voer aan met bykans een aanval per week is maatskaplike werkers toenemend teikens en word deur misdaadsindikate gekaap. ‘n Woordvoerder, Wendy Kaizer-Philander, vra strenger strawwe vir oortreders aangesien hierdie aanvalle noodsaaklike maatskaplike dienste aan kwesbare mense ontwrig :
# Olimpiese Spele: Die Franse polisie het ‘n Australiese hokkiespeler in hegtenis geneem wat na bewering probeer het om kokaïen te koop in Parys. Die 28-jarige is nog nie aangekla nie. Die Australiese Olimpiese Komitee doen stappe om die atleet te ondersteun. Hy is volgens berigte by sy tweede Spele nadat hy by die vorige Spele in Tokio ‘n silwermedalje met die span gewen het. Albei nasionale spanne, bekend as die Hockeyroos en die Kookaburras, is vroeër die week in die kwarteindrondes uitgeskakel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-32-sent teen die dollar, 20-rand-1-sent teen die euro en 23-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-164-dollar-41-sent. Die prys van goud is twee-duisend-402-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….