Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 6 Augustus 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC se nasionale uitvoerende komitee is bekommerd oor toenemende misdaad en onwettige vuurwapens
# Binnelandse Sake gaan ‘n Mej SA-deelnemer se verkiesbaarheid na
# En, krieket: Afrigter Shukri Conrad steun Tristan Stubbs as die Proteas se nommer 3-toetskolwer
# Die ANC se nasionale uitvoerende komitee het ernstige kommer uitgespreek oor die skerp-stygende misdaadkoers, dwelms en die vermeerdering van onwettige vuurwapnes. Die komitee sê hoëkaliberwapens, ontvoerings en afpersing hou groot uitdagings in vir wetstoepassing en openbare veiligheid. Die lid van die NUK en minister van Polisie, Senzo Mchunu, het die media toegespreek op die laaste dag van die lekgotla in Boksburg en gesê die misdaadsituasie is nie ten volle buite beheer of onder beheer nie:
# Binnelandse Sake het bevestig hy gaan binnekort begin met ‘n proses om seker te maak van die Mej SA-deelnemer Chidimma Adetshina se geskiktheid om deel te neem nadat toestemming verkry is van haar familielede. Dit gebeur te midde van gesprekke oor haar geskiktheid om die land te verteenwoordig weens haar familie se buitelandse afkoms. Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, het aan Newzroom Afrika gesê Adetshina se familielede het die departement gevra om duidelikheid oor die saak:
# ‘n Veertigjarige man van Nieu-Suid-Wallis is waarskynlik die tweede persoon in net meer as ‘n maand wat dood is in ‘n krokodilaanval in Australië. Hy het gehengel terwyl hy en sy gesin deur Queensland gereis het. Volgens die owerhede het die man in die Annan-rivier, suid van Cooktown, geval. Sy ligaam is nog nie gevind nie. Die krokodil wat hom glo aangeval het, is vankant gemaak. Dit volg nadat ‘n 12-jarige meisie verlede maand in die aangrensende Noordelike Gebied aangeval is terwyl sy en haar gesin in ‘n spruit geswem het.
# Krieket: Die Proteas se toetsafrigter, Shukri Conrad, glo die onervare Tristan Stubbs het wat nodig is om ‘n fantastiese nommer drie-toetskolwer te word. Hy sal die rol vervul in die eerste van twee toetse teen die Windies, wat môre in Trinidad begin. Die witbalkaptein, Aiden Markram, en Tony de Zorzi is Suid-Afrika se aanvangskolwers. Conrad sê hoewel die 23-jarige Stubbs tot dusver nog net in een toets gespeel het, het hy ‘n goeie aura en sterk liggaamstaal:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-52-sent teen die dollar, 20-rand-21-sent teen die euro en 23-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 54-duisend-865-dollar-56-sent. Die prys van goud is twee-duisend-390-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-70-sent per vat.
# En ten slotte: Wetenskaplikes vra meer omvattende bevordering van paleontologiese navorsing in Afrika. Dit volg na die Lewe in die Heelal-konferensie in Kaapstad wat op die oorsprong van die mens gefokus het. Die geleentheid het saamgeval met die 100-jarige ontdekking van die Taung-kindfossiel in Suid-Afrika. Die konferensie is aangebied deur die Sterrekundige Vereniging van Afrika en die Suid-Afrikaanse Radio Astronomie Sterrewag en het gefokus op die sinergie tussen paleontologie en sterrekunde om die oorsprong van die mens te verstaan. Die uitvoerende hoof van die Paleontologiese Wetenskaplike Trust, Kimberley Tommy, sê die konferensie was noodsaaklik vir menslike ontdekking.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….