Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 22 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa maan die EFF-leier teen die man speel in plaas van die bal
# Mashaba sit sy voorwaardes uiteen vir ‘n vennootskap met die ANC in Johannesburg
# En, rugby: Die Bokke verwag drie staatmakers terug van beserings vir die toetse teen Australië
# President Cyril Ramaphosa het die leier van die EFF, Julius Malema, gemaan om opbouend te debatteer in plaas daarvan om op hom te fokus. Hy het na aanleiding van Malema se opmerkings gedurende die debat oor sy toespraak met die Parlementsopening, gesê Malema is swak ingelig oor die geskiedenis van die mynbousektor, insluitend die mynwerkersvakbond NUM. Hy beklemtoon daar moet gefokus word op ontwikkeling vir vooruitgang:
# Die leier van ActionSA, Herman Mashaba, het sy voorwaardes uiteengesit vir ‘n vennootskap met die ANC in Johannesburg. Mashaba eis die verwydering van burgemeester Kabelo Gwamanda, die kansellasie van die 200-rand elektrisiteitsheffing, die terugneem van gekaapte geboue vir bekostigbare behuising, en steun vir die verkiesing van ‘n ActionSA-speaker in Tshwane. Ondanks vorige beloftes om nooit met die regerende party saam te werk nie, hou Mashaba vol die vennootskap is die sleutel tot die uitroei van korrupsie in Johannesburg:
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, lei ‘n afvaardiging na Amerika vir die Forum oor die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika. Met die tema, “Anderkant 2025: Stel jou voor AGOA vir ‘n Inklusiewe, Volhoubare en Voorspoedige Môre,” sal die forum die toekoms van AGOA en sy uitwerking op Afrika se ekonomieë bespreek. Die minister beklemtoon die strategiese belangrikheid van Amerika as Suid-Afrika se tweede grootste handelsvennoot en die noodsaaklikheid om AGOA vroegtydig te hernu en Amerikaanse belegging in Afrika te verhoog.
# ‘n Gewapende aanvaller het vandag ‘n sorgsentrum vir bejaardes in sentraal-Kroasië ingestorm en verskeie mense doodgeskiet en gewond. Vyf mense is volgens berigte op die toneel dood, terwyl ander nog mediese behandeling kry. Die aanvaller het op die vlug geslaan, maar die polisie het hom vasgetrek en hou hom aan. Televisieberigte lui die skieter is in 1973 gebore en het geveg in die oorlog in Kroasië tussen 1991 en ’95. Hy is ‘n familielid van een van die tehuis se inwoners.
# Rugby: Die Springbokke sal versterk word met die terugkeer van beserings van drie staatmakers, Pieter-Steph du Toit, Steven Kitshoff en Malcolm Marx, vir die Rugbykampioenskap. Hulle sal na verwagting ingesluit word in afrigter Rassie Erasmus se groep vir die toer van twee wedstryde in Australië, hoewel Marx slegs beskikbaar sal wees vir die tweede toets. Erasmus sê Saterdag se oortuigende oorwinning oor Portugal toe die meeste eerste-keuse Bokke ‘n blaaskans gegun is, het hom ‘n goeie idee gegee van die diepte in die groep. Die eerste toets vind op 10 Augustus plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-26-sent teen die dollar, 19-rand-86-sent teen die euro en 23-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-591-dollar-68-sent. Die prys van goud is twee-duisend-398-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….