Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum dien ‘n saak in teen Julius Malema en Floyd Shivambu oor die VBS-bankbewerings
# DA-leier Steenhuisen verwelkom die beleidsingrypings van die regering van nasionale eenheid
# En, rugby: Clayton Blommetjies is terug vir die WP teen die Griffons
# AfriForum het ‘n saak aanhangig gemaak teen die EFF-leiers Julius Malema en Floyd Shivambu vir bedrog, korrupsie en geldwassery kragtens die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad. Die uitvoerende hoof, Kallie Kriel, se saak by die polisiekantoor in Sandton, Johannesburg, vra ‘n ondersoek na die bewerings oor die VBS-bank en die EFF as ‘n georganiseerde misdaadonderneming. AfriForum se advokaat, Gerrie Nel, vra gelykheid voor die reg:
# Die DA-leier, John Steenhuisen, het die beleidsingrypings verwellkom wat op die kabinets-legotla bespreek is. Dit sluit in die uitbreiding van voedsel-items wat van BTW vrygestel is, die verlaging van brandstofpryse, die voorkoming van politieke inmenging in die Staatsdiens, en die skep van gespesialiseerde eenhede om geweldsmisdade en boubedryf-mafia’s te bekamp. Steenhuisen het in die Parlement ook die party se verbintenis tot ‘n verantwoordelike fiskale roete bevestig, asook die vermindering van nasionale skuld en groter uitvoere:
# Die adjunk-direkteur van die Departement van Water en Sanitasie, Sello Machitje, is dood aangetref nadat hy op 8 Julie as vermis aangemeld is. Hy is gekaap terwyl hy van Gauteng na die Oos-Kaap gereis het. Machitje se familie het vanoggend bevestiging van sy dood gekry. Die familie se woordvoerder, Sello Mphaga, sê hulle wag op meer besonderhede van wetstoepassing terwyl hulle rou oor sy dood. Die polisie ondersoek of ‘n 53-jarige verdagte, wat vir die besit van Machitje se voertuig aangekeer is, met sy dood verbind kan word.
# Die Israeliese Weermag ondersoek ‘n oënskynlike hommeltuigaanval op sentraal Tel Aviv in die vroeë oggendure. Israeliese nooddienste sê een persoon is in die ontploffing dood en verskeie ander beseer. Houthi-militante in Jemen het aanspreeklikheid vir die aanval aanvaar. Die voorval volg nadat die Israeliese Weermag bevestig het dat hulle ‘n senior Hezbollah-bevelvoerder in die suide van Libanon gedood het. Hezbollah en die Houthi’s sê albei hulle tree in solidariteit met die Palestyne op.
# Rugby: Die heelagter Clayton Blommetjies keer na ‘n besering terug vir Westelike Provinsie vir Sondag se Curriebeker-kragmeting met die Griffons in Welkom. Daar is ook ‘n debuut vir die vleuel Jared Africa, die senter Jonathan Roche, die stutte Mhleli Khuzwayo en Nicolas Roebeck, en die slot André Goedhals. Die meerderheid van die nuwelinge het reeds hulle waarde bewys vir die Westelike Provinsie se 0nder-21’s en sal graag vir die senior span wil beïndruk. Afskoptyd is die middag drie-uur.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-32-sent teen die dollar, 19-rand-95-sent teen die euro en 23-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-248-dollar-67-sent. Die prys van goud is twee-duisend-397-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….