Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 18 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Progressive Caucus stel sy handves vir die sewende administrasie bekend
# Ursula von der Leyen word herkies as president van die Europese Kommissie
# En, rugby: Lukhanyo Am is opgewonde oor die Springbokke se meer aanvallende spelpatroon
# Die Progressive Caucus, bestaande uit die MK-party, die EFF, ATM en ander kleiner partye, het sy handves vir die sewende Parlement uiteengesit. Die MK se parlementêre leier, John Hlophe, het aan die media gesê die doel is om Suid-Afrika se demokrasie te versterk en die regering aanspreeklik te hou vir ‘n korrupsievrye samelewing. Hy het ook die stryd beklemtoon vir gratis onderwys, gesondheidsorg, behuising, water en sanitasie:
# Die regspan van die Johannesburgse student Bafana Mahungela, wat van moord op die Sandtonse onderwyseres Kirsten Kluyts aangekla word, sê die saak gaan nie op 16 Augustus na die Hooggeregshof toe nie. Mahungela staan tereg op aanklagte van moord met voorbedagte rade, roof met verswarende omstandighede, poging tot verkragting en seksuele aanranding. Mahungela se regsverteenwoordiger, Itumeleng Masako, voer aan die Nasionale Vervolgingsgesag het nie die finale ondersoeke verstrek, wat DNS-uitslae insluit nie:
# Die Gautengse LUR vir Finansies en Ekonomiese Ontwikkeling, Lebogang Maile, beloof voortgesette steun vir die motorsektor. Hy het na ‘n besoek aan die Spesiale Ekonomiese Sone vir Motorvoertuie in Tshwane, gewys op ‘n belegging van 24-miljard-rand wat gelei het tot die vestiging van ‘n vervaardigingsone en drie-duisend-500 werksgeleenthede geskep het. Ford se belegging van tot 16-miljard-rand het ook die produksievermoë vergroot, met nog beleggings wat beplan word vir hibriede voertuie. Maile sê hierdie beleggings skep werk en vergroot die vervaardigingsvermoë in die provinsie.
# Die Europese Kommissie se president, Ursula von der Leyen, het ‘n tweede vyfjaar-termyn gewen en beloof sy sal toesien dat die Europese Unie sy verdedigingsvermoë en nywerhede versterk, asook die behuisingskrisis takel. Die voormalige Duitse minister van Verdediging het in 2019 die eerste vrou aan die hoof van die kommissie geword. Sy het haarself voorgestel as die beste en mees ervare leier om aan die stuur van die kommissie te wees. Dit was egter ‘n moeilike pad om dié punt te bereik. Die 27 leiers van die EU het haar kandidatuur in Junie vurig gedebatteer voor sy benoem is.
# Rugby: Lukhanyo Am sien daarna uit om die eerste keer in byna ‘n jaar weer vir die Springbokke uit te draf. Hy is André Esterhuizen se sentermaat in Saterdag se toets teen Portugal in Bloemfontein. Dit is sy eerste toets vir die Bokke sedert Augustus verlede jaar, toe hy ‘n kniebesering teen Argentinië opgedoen het. Am is opgewonde oor die meer aanvallende styl van rugby wat die Bokke probeer speel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-16-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 23-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-23-dollar-64-sent. Die prys van goud is twee-duisend-462-dollar-4-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….