Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 16 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum bepleit doeltreffende polisie-leierskap en gemeenskapsbetrokkenheid
# Die kwotas vir blouvintuna-vangste word verhoog
# En, sokker: Gareth Southgate bedank as Engeland se bestuurder na die nederlaag in die Euro 2024-eindstryd
# AfriForum het sy ondersteuning uitgespreek vir die nuutaangestelde minister van Polisie, Senzo Mchunu, en sy verbintenis herbevestig om nou met die polisie saam te werk. Dit volg na Mchunu se uiteensetting van misdaadkwessies wat dringend aandag gaan kry. ‘n Woordvoerder van AfriForum, Jacques Broodryk, onderneem om enige kwessies weens onbevoegdheid, korrupsie of politieke inmenging binne die polisie uit te wys:
# Lande in die Stille Oseaan het ingestem om die visvangkwotas vir blouvintuna-vangste te verhoog nadat voorraad herstel het. Lede van die Visserykommissie vir die Sentrale en Westelike Stille Oseaan het tydens samesprekings in Japan ooreengekom om die kwota vir groot blouvintuna met 50-persent te verhoog. Vir kleiner blouvintuna wat minder as 30 kilogram weeg, is die perk met tien-persent verhoog. Hierdie vergadering bring 26 lande en streke byeen om visvangbeleid in die Stille Oseaan vas te stel.
# Die president van Rwanda, Paul Kagame, het ‘n vierde termyn ingepalm nadat hy 99,15-persent van die stemme in die verkiesing gekry het. Dit is volgens gedeeltelike uitslae van die verkiesing waarin net twee uitdagers toegelaat is om teen hom te staan. Daar was nooit twyfel oor die uitkoms van gister se stemmery nie, met Kagame wat die klein Afrikaland reeds drie dekades lank met ‘n ystervuis regeer. Die Verkiesingskommissie het sewe uur nadat die stembussse gesluit het, reeds gesê Kagame het selfs meer stemme op hom verenig as die 98,79-persent van sewe jaar gelede.
# Sokker: Gareth Southgate het as Engeland se bestuurder bedank nadat sy span die tweede keer agtereenvolgens die Euro-eindstryd verloor het. Hy sê dit was ‘n eer om vir Engeland te speel en die span te bestuur. Southgate was vir byna agt jaar en 102 wedstryde in beheer van die span. Volgens hom het Engeland die beste ondersteuners ter wêreld en hulle steun was vir hom ‘n riem onder die hart. Hy sien daarna uit om te sien hoe spelers nog spesiale herinneringe skep om die land te inspireer.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-73-sent teen die euro en 23-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-701-dollar-77-sent. Die prys van goud is twee-duisend-434-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-52-sent per vat.
# Ten slotte: Die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering gaan Donderdag die 15de bestaansjaar van Internasionale Nelson Mandela-dag amptelik herdenk. Wyle oudpresident Nelson Mandela se nalatenskap sal vereer word onder die tema ‘Dit is steeds in ons hande om armoede en ongelykheid te bekamp.’ Die president van die Algemene Vergadering, Dennis Francis, het klem gelê op Mandela se siening van armoede as ’n onreg. Die adjunk-sekretaris-generaal, Amina Mohammed, het die raad aangemoedig om Mandela se voorbeeld te volg om armoede te beëindig:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….