Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 15 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Ministerie van Polisie wil verouderde wetgewing laat wysig
# Minister Schreiber sê sy departement het reeds die visum-agterstand met byna 93-duisend verminder
# En, rugby: Die Bok-vroue sê hulle gaan nie Parys toe om die Eiffel-toring te besigtig nie
# Die Ministerie van Polisie het planne aangekondig om die verouderde Wet op die Suid-Afrikaanse Polisiediens te wysig ter wille van moderne misdaadbestrydingsbehoeftes. Die wysigings wil huidige uitdagings hanteer, waaronder stygende misdaadkoerse, bendegeweld en die toename in onwettige vuurwapens. Minister Senzo Mchunu het op ‘n nuuskonferensie gesê hierdie wetgewende veranderings is deurslaggewend vir die verbetering van openbare veiligheid en die opbou van vertroue in die polisie:
# Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, sê sy departement se toegewyde span het reeds die visum-agterstand verminder deur 92-duisend-886 aansoeke uit ‘n totaal van 306-duisend te verwerk. Dit is ‘n vermindering van 30-persent. Schreiber het die departement se begroting in die Parlement ter tafel gelê. Hy sê ‘n verdere dringende kwessie in die verbetering van die waardigheid van interaksie met Binnelandse Sake is om die aanlyn stelsel bestendig te maak:
# Die Wes-Kaap is tot ‘n rampgebied verklaar na verlede week se uiterste weer. Premier Alan Winde en die minister van Samewerkende Regering, Velinkosini Hlabisa, het die verklaring in Kaapstad uitgereik. Die algehele skade word nog bepaal. Hlabisa sê daar word probeer om die uitwerking van klimaatsverandering te versag. Hy sê die regering van nasionale eenheid sal voorrang gee aan inwoners in laagliggende gebiede:
# Die Vereniging vir Spaar en Belegging in Suid-Afrika waarsku die nuwe tweepot-aftreestelsel se voorsiening vir toegang tot spaargeld tydens finansiële moeilikheid het aansienlike belasting-gevolge. Onttrekkings word belas teen die marginale koers, wat lede in hoër belastinggroepe kan plaas. Die vereniging lig die voorbeeld uit waarin die onttrekking van 80-duisend-rand ‘n bykomende 21-duisend-275-rand se belasting tot gevolg kan hê. Langtermyn-gevolge sluit in die verlies aan aansienlike beleggingsgroei, met 80-duisend-rand wat op ouderdom 40 onttrek word wat moontlik 121-duisend-958-rand in toekomstige waarde teen aftree-ouderdom kan beteken, sonder inagneming van inflasie.
# Rugby: Die Springbok-vrouesewesspan het in Frankryk aangekom en besef terdeë wat hulle eerste deelname aan die Olimpiese Spele beteken. Een van die span se sterpresteerders, Nadine Roos, sê hulle gaan alles uithaal om te wen. Sy sê hulle is nie daar om selfies by die Eiffel-toring te neem nie, Die vroue is vir ‘n weeklange oefenkamp in Montpellier waar hulle teen Australië en Brasilië speel, voor hulle na Parys vertrek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-24-sent teen die dollar, 19-rand-91-sent teen die euro en 23-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-769-dollar-26-sent. Die prys van goud is twee-duisend-413-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….