Nuus 17:00
BULLETIN 17 Augustus 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Vusimuzi “Cat” Matlala weier om vrae oor ‘n beweerde rooibok-aflewering aan Shadrack Sibiya te beantwoord
# Die Reserwebank ondersoek meer as R4-miljard se oordragte vir die DA se voorsitter van Finansies
# En, twee Franse ambassadewerknemers word verbied om na Iran terug te keer
# Die sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala het geweier omvrae te beantwoord oor ‘n rooibok wat na bewering by die geskorste nasionale adjunk-polisiekommissaris, Shadrack Sibiya afgelewer is. Matlala het tydens sy getuienis voor die Madlanga-kommissie gesê die opname wat die bespreking bevat, word glo ondersoek. Hy sê hy kon nie vasstel of die rooibok-kwessie spesifiek deel van die ondersoek was nie. Matlala sê hy is nie bereid om oor die saak te bespiegel as hy homself kan benadeel deur kommentaar te lewer nie:
# Die Suid-Afrikaanse Reserwebank ondersoek die finteg-maatskappy Kastelo, wat gestig is deur die voorsitter van die DA se federale Finansies-komitee, Mark Burke, oor beweerde oortredings van valutabeheer. Dit behels oordragte van sowat vier-miljard-rand na die buiteland. ‘n Beëdigde verklaring beweer dat Kastelo moontlik kliënte se buitelandse valuta-toelaes vir eie voordeel gebruik en sy bedrywighede verkeerd voorgestel het aan die owerhede. Die maatskappy het sy sakemodel verdedig en sê dit stel kliënte in staat om voordeel te trek uit verskille in kripto-geldeenheidpryse tussen plaaslike en internasionale markte.
# Die Stad Johannesburg sê die Johannesburg Internasionale Vervoerwisselaar sal na verwagting voor die einde van 2026 in werking tree. Die woordvoerder van die stad, Virgil James, sê die tender vir ‘n bestuursdiensverskaffer is afgehandel, en ‘n 60-dae openbare deelnameproses word kragtens die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur vereis. Hy sê die fasiliteit sal 169 winkelstalletjies hê wat na verwagting werksgeleenthede sal skep en streekvervoer en ekonomiese aktiwiteit ‘n hupstoot gee:
# Iran het aangekondig twee Franse ambassade-werknemers wat verlede maand in ‘n diplomatieke geskil betrokke was, sal nie toegelaat word om na die land terug te keer nie. Die woordvoerder van die Ministerie van Buitelandse Sake, Esmaeil Baghaei, sê die twee het die Weense Konvensie, wat die reëls en voorregte van diplomatieke missies definieer, oortree deur deel te neem aan aktiwiteite wat die Iranse burgerlike samelewing ondersteun. Die Franse minister van Buitelandse Sake, Jean-Noel Barrot, het verlede maand gesê die missie van die twee werknemers was om programme te ontwikkel wat die Iranse burgerlike samelewing, studente en kunstenaars ondersteun.
# Krieket: Daar word toenemend gevra vir die vervanging van ouer kolwers na Australië se vernederende nederlaag met nege paaltjies in die eerste toets teen Bangladesh in Darwin. Dis die besoekers se heel eerste oorwinning in Australië en slegs hulle tweede oor die wêreld se voorste span. Druk neem toe op spelers soos Marnus Labuschagne en Jake Weatherald, wat gemiddeld onder 27 lopies aangeteken het sedert die begin van die reeks om die As teen Engeland verlede jaar. ‘n Vorige kaptein, Ricky Ponting, sê dis tyd vir moeilike besluite.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-21-sent teen die dollar, 18-rand-79-sent teen die euro en 21-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-445-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-383-dollar-6-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 90-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….