Nuus 17:00
BULLETIN 30 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die NVG trek die aanklag terug teen ‘n man wat verdink is van die moord op ‘n Johannesburgse tiener
# Nog twee mense word aangekeer vir die moord op ‘n DA-raadslid in KwaZulu-Natal in 2023
# En krieket: Indië onttrek aan sy halfeindstryd teen Pakistan in die Wêreldkampioenskap vir Legendes
# Die Nasionale Vervolgingsgesag het die moordaanklag teen Mduduzi Mnisi teruggetrek wat verdink is van die moord op die Johannesburgse tiener Likhona Fose. Dit volg omdat nuwe bewyse aandui dat hy nie die laaste persoon is wat saam met die 14-jarige meisie gesien is nie. Haar verminkte liggaam is in die veld naby haar huis in Durban Deep gevind. Phindi Mjonondwane van die NVG sê selfoonrekords dui aan dat Mnisi die dag van die moord in Daveyton was en sy alibi is later bevestig terwyl bykomende verklarings van getuies sy bewerings ondersteun het:
# Die taakspan vir politieke moorde in KwaZulu-Natal het nog twee mense in hegtenis geneem in verband met die moord op die DA-raadslid Nhlalayenza Ndlovu in 2023. Hulle is ‘n 56-jarige hoofman en die 26-jarige vermeende meesterbrein wat die aanval vanuit die tronk gekoördineer het. Ndlovu is doodgeskiet in sy huis in die omgewing van Mpophomeni in Howick. Polisie-woordvoerder Athlenda Mathe sê die twee sal môre saam met twee ander beskuldigdes in die plaaslike Landdroshof verskyn:
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê geen energie-oordrag sal volhoubaar wees as hervorming van wêreldwye energiefinansiering nie plaasvind nie. Hy het op die G20 Energie-oorgangswerkgroep by Sun City in Noordwes gevra vir ‘n tegnologies-inklusiewe benadering tot nasionale energiekombinasies en infrastruktuur-gereedheid. Ramokgopa vra uitgebreide belegging, vernuwing en samewerking ten opsigte van tegniese ontwikkelings, koolstofberging, en ontwikkeling van vermoë om buigsame, praktiese oorgangsweë vir almal te verseker:
# Die Stad Kaapstad sê onwettige hengel in die Rosendal- en die Sonstraaldam in Durbanville bedreig plaaslike natuurlewe en beskadig sensitiewe ekostelsels. Dit volg ná ontstellende voorvalle, insluitend ‘n kormorant wat gevrek het toe hy in ‘n vislyn verstrengel was. Mense gaan ondanks duidelike waarskuwingsborde en patrollies voort om onwettig vis te vang en ignoreer die reëls wat inheemse spesies beskerm. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Francine Higham, vra inwoners om onwettige bedrywighede aan te meld en slegs op aangewese plekke en met behoorlike permitte vis te vang.
# Krieket: Indië het volgens berigte onttrek aan môre se halfeindstryd teen Pakistan in die Wêreldkampioenskap vir Legendes. Dit volg nadat Indië vroeër in die groepsafdeling ook geweier het om teen sy buurland te speel weens die jongste vyandigheid tussen die twee aartsvyande. Indië se besluit beteken Pakistan dring deur na Saterdag se eindstryd op Edgbaston in Birmingham, Engeland. Die span kom te staan teen die wenner van môre se halfeindstryd tussen Suid-Afrika, aangevoer deur die voormalige Protea-ster AB de Villiers, en Australië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-95-sent teen die dollar, 20-rand-58-sent teen die euro en 23-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 117-duisend-513-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-309-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 71-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….