Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AZAPO eis die vervolging van politici wat verbind word met die plundering van die VBS Bank
# Die voormalige Gesondheidsombud eis aanspreeklikheid na die Life Esidimeni-uitspraak
# En, sekere skole in die Wes-Kaap bly gesluit weens die gure weer
# AZAPO versoek die Nasionale Vervolgingsgesag om politici te vervolg wat verdink word van die plundering van VBS Mutual Bank. Die party is teleurgesteld met die vonnis van 15 jaar vir die voormalige voorsitter van die raad, Tshifhiwa Matodzi, en beskou dit as te lig. Meer as twee-miljard-rand is geplunder. ‘n Woordvoerder van AZAPO, Jabu Rakwena, versoek die NVG om mense voor die hof te bring en vir vergoeding aan die slagoffers:
# Die voormalige Gesondheidsombud, Malegapuru Makgoba, dring aan op aanspreeklikheid deur senior amptenare na die uitspraak in die Life Esidimeni-saak. Makgoba het die oorplaas van pasiënte na ongelisensieerde nie-regeringsorganisasies in 2017 ontbloot, wat gelei het tot die ondersoek. Meer as 140 psigiatriese pasiënte is dood. Die Hooggeregshof in Pretoria het die voormalige Gautengse LUR vir Gesondheid, Qedani Mahlangu, en die voormalige hoof van Geestesgesondheid, Makgabo Manamela, skuldig bevind aan nalatigheid. Makgoba het op Newzroom Afrika die behoefte aan verbeterde gesondheidsdienste in Suid-Afrika beklemtoon:
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement sê skole in die Kaapse Wynland- en Overberg-onderwysdistrikte sal môre gesluit bly. Die besluit volg op gure weer wat uitgebreide padskade en oorstromings veroorsaak het, wat ‘n veiligheidsrisiko inhou vir leerders en onderwysers. Millicent Merton van die departement sê skole sal na verwagting Maandag heropen, afhangend van voortgesette beooordeling en herstelwerk aan beskadigde infrastruktuur:
# Die Internasionale Energie-agentskap het sy vooruitskatting afwaarts aangepas en sê die wêreldvraag daal en die Chinese verbruik is minder. Die instelling is in Parys gebaseer en gee nywerheidslande raad oor energiebeleid en sê die vraag na olie het in die tweede kwartaal met net meer as 710-duisend vate per dag toegeneem, die stadigste in meer as ‘n jaar. Olieverbruik in China, die enjinkamer van die groei in die vraag na olie, het in April en Mei ingekrimp. Die Chinese vraag was in die tweede kwartaal ook marginaal laer as in dieselfde tydperk in 2023.
# Rugby: Die veteraan-stut, James Slipper, voer die Wallabies aan in Saterdag se tweede toets teen Wallis in Melbourne in die plek van Liam Wright, wat beseer is tydens die oorwinning van 25-16 in verlede naweek se eerste toets teen die Walliesers in Sydney. Charlie Cale, wat hom vervang het, begin die eerste keer op nommer agt en Rob Valetini verskuif na toekant-flank in die enigste verandering wat afrigter Joe Schmidt aan die opdrafspan aangebring het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-97-sent teen die dollar, 19-rand-57-sent teen die euro en 23-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-727-dollar-76-sent. Die prys van goud is twee-duisend-405-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….