Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die voormalige Gautengse LUR vir Gesondheid en ander word skuldig bevind aan Life Esidimeni-sterftes
# Die voormalige voorsitter van VBS Mutual Bank pleit skuldig op 33 aanklagte
# En, tennis: Novak Djokovic haal Wimbledon se halfeindronde die 13de keer nadat Alex de Minaur onttrek
# Die Hooggereghof in Pretoria het bevind die voormalige Gautengse LUR vir Gesondheid, Qedani Mahlangu, en andere is aanspreeklik vir die dood van nege van die Life Esidimeni-pasiënte. Die uitspraak volg op ondersoeke na 144 sterftes in 2016 weens onvoldoende sorg, met verdere strafregtelike aanspreeklikheid wat nog bepaal moet word. Regter Mmonoa Teffo het bevind Mahlangu, die direkteur vir geestesgesondheid, Makgabo Manamela, en Dorothy Franks van die nie-regeringsorganisasie Anchor was nalatig, wat gelei het tot sterftes nadat die pasiënte verskuif is na swak-toegeruste organisasies ondanks waarskuwings deur kenners:
# Die voormalige voorsitter van VBS Mutual Bank, Tshifhiwa Matodzi, het in die Hooggeregshof in Pretoria skuldig gepleit op 33 aanklagte. Matodzi was die meesterbrein agter die diefstal van 2,2-miljard-rand by die bank en beken skuld op aanklagte van diefstal, bedrog, geldwassery en rampokkery. Hy het erken hy het 250-mijoen-rand gesteel deur fiktiewe rekeninge te skep. Die bank is in 2018 onder kuratorskap geplaas en het in 2022 dividende begin likwideer. Onder die 32 inhegtenisnemings was die voormalige hoof- finansiële beampte, Philip Truter, wat tot sewe jaar tronkstraf gevonnis is en staatsgetuie geword het.
# Die burgerregte-organisasie AfriForum raai ouers aan om van môre hulle kinders aanlyn te registreer vir Graad 1 en 8 in Gautengse skole,. Die registrasietydperk eindig op 12 Augustus. AfriForum se hoof van Kultuursake, Alana Bailey, versoek ouers om die vereiste dokumente binne sewe dae na die aansoek in te dien. Bailey beklemtoon dis belangrik om betyds te registreer en sê AfriForum sal ondersteuning verskaf met enige kwessie wat mag opduik:
# Aanklaers in New York sê die gewese Hollywood-regisseur Harvey Weinstein word ondersoek vir bykomende aanklagte van seksuele aanranding. Volgens aanklaer Nicole Blumberg gaan hulle aansoek doen om ‘n nuwe aanklag aangesien die bykomende aanrandings steeds binne die verjaringstermyn val en as misdade verhoor kan word. Die 72-jarige Weinstein is in 2020 skuldig bevind aan verkragting in ‘n grensverskuiwende saak en tot 23-jaar tronkstraf gevonnis, maar dit is in April omgekeer. ‘n Herverhoor moet nog aangekondig word. Die kwessie het die #MeToo-beweging begin.
# Tennis: Die sewemalige kampioen, Novak Djokovic van Serwië, is die 13de keer deur na die halfeindronde op Wimbledon nadat Alex de Minaur moes onttrek aan hulle kwarteindstryd. Die Australiër het sy heup Maandag beseer tydens sy vierde ronde-wedstryd teen die Fransman Arthur Fils. Hy sê hy is verpletter om te moes onttrek, maar kan nie die kans waag om die besering te vererger indien hy speel nie. Djokovic kom Vrydag in die voorlaaste ronde te staan teen die wenner van vandag se laaste kwarteindstryd tussen Lorenzo Musetti van Italië en Taylor Fritz van Amerika
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-6-sent teen die dollar, 19-rand-55-sent teen die euro en 23-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-87-dollar-40-sent. Die prys van goud is twee-duisend-378-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….