Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 9 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering kyk na Ierland se nuwe visumvereistes vir Suid-Afrikaners
# Die petroleum-vereniging vra belegging in plaaslike raffinaderye
# En die minister van Sport herlei befondsing weg van super-aanhangerreise
# Die ministers van Internasionale Betrekkinge en van Binnelandse Sake, Ronald Lamola en Leon Schreiber, gee aandag aan Ierland se nuwe visumvereistes vir Suid-Afrikaners. Die Ierse minister van Justisie, Helen McEntee, het die verandering aangekondig weens ‘n toename in asielsoekers uit Suid-Afrika en Botswana, wat voorheen nie visums nodig gehad het nie. Dit bring Ierland in ooreenstemming met Schengen- en Britse beleid. Lamola se woordvoerder, Crispin Phiri, het bevestig dat samesprekings plaasvind. Dublin se visumkantoor sal ‘n spesiale Suid-Afrikaanse afdeling tot stand bring, met drie visumaansoeksentrums wat deur VFS Global in Suid-Afrika bestuur sal word.
# Die Suid-Afrikaanse Petroleum-bedryfsvereniging herbeklemtoon die behoefte aan kapitale belegging in plaaslike raffinaderye om teen 2027 te voldoen aan die tweede skoonbrandstof-program. Die hoof van Strategie, Kevin Baart, het in ‘n besprekingsgroep gesê huidige prysstrukture kan nie die nodige beleggings finansier nie. Baart gee die versekering die bedryf het 18-jaar lank voorraadrisiko’s doeltreffend bestuur. Hy lig ook die belangrikheid uit van skoner brandstowwe en tegnologie wat uitlatings verminder.
# Die Gautengse LUR vir Onderwys, Sport, Kuns, Kultuur en Ontspanning, Matome Chiloane, versoek alle ouers en voogde van graad R-leerders om aanlyn aansoek te doen vir toelating tot skole. Die aanlyn toelatingstelsel open Donderdag en sluit op 12 Augustus vir leerders in Graad 1 en 8. Chiloane sê ouers en voogde wat vir ander grade by ‘n openbare skool in Gauteng aansoek doen, moet persoonlik by geïdentifiseerde skole aansoek doen en nie op die departement se aanlyn toelatingstelsel nie:
# Die Stad Tshwane se Gesondheidsdepartement is bekommerd oor die stygende MIV-oordrag van ma na kind. In die eerste ses maande vanjaar het 232 babas in Gauteng positief getoets vir MIV en byna 40 was van Tshwane. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsveiligheid, Grandi Theunissen, sê die departement bied aan ma’s, vroue en kinders gesondheids- en voedingsprogramme by sy 24 klinieke vir basiese gesondheidsorg:
# Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het staatsbefondsing gestaak vir reise deur super-sportaanhangers weens atlete en kunstenaars wat geldelike tekorte ondervind. Dit volg op omstredenheid van die departement se borgskap van Mama Joy Chauke en Botha Msila se besoek van 1,3-miljoen-rand aan Frankryk vir verlede jaar se Wêreldbeker-rugbytoernooi. McKenzie wil fondse herlei om sukkelende atlete en kunstenaars te ondersteun in plaas van befondsing vir aanhangers se reis en verblyf. Hy sê belastinggeld moet aangewend word waar dit die meeste benodig word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-16-sent teen die dollar, 19-rand-65-sent teen die euro en 23-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-246-dollar-40-sent. Die prys van goud is twee-duisend-362-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-49-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….