Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Skade-bepaling begin met ‘n nuwe kouefront wat dreig
# Noordwes se Departement Gemeenskapsveiligheid stel die permanente sluiting van alle ongebruikte myne voor
# En, rugby: Rassie Erasmus waarsku Ierland is oorgehaal vir Durban
# Skade-bepaling is aan die gang ná intensiewe kouefronte oor die Wes-Kaap. Die provinsiale Rampbestuursentrum meld ontwrigtings aan soos skuilingsverlies, oorstromings en kragonderbrekings. Kaapstad, die Overberg en die Kaapse Wynland het die ergste deurgeloop. Die LUR vir Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, lê klem op veiligheid en humanitêre bystand, met nog ‘n front wat môre verwag word. Eskom werk ook aan krag-onderbrekings, en soek- en reddings-operasies duur voort in afgeleë gemeenskappe.
# Die Departement van Gemeenskapsveiligheid in Noordwes beplan om in gesprek te tree met die Departement van Minerale Bronne om alle ongebruikte mynskagte permanent te sluit, om sodoende onwettige mynbou te verhinder. Dit volg na die dood van vier Weermaglede by Skag 3 in Orkney, waar hulle ontplooi is as deel van Operasie Vala Umgodi. Koolstofmonoksied-vergiftiging word as moontlike oorsaak ondersoek. Die LUR, Wessels Morweng, benadruk die dringendheid om die skagte permanent te sluit om verdere voorvalle en onwettige bedrywighede te voorkom.
# Die Kommissie vir Geslagsgelykheid gaan die aanranding op ‘n bejaarde ondersoek na aanleiding van ‘n video wat wys hoe ‘n tiener sy 82-jarige ouma aanrand. Luvo Ngqaza het in die Landdroshof in Kuilsrivier, Kaapstad, verskyn op aanklagte van aanranding en oortreding van die Wet op Ouer Persone. Sy verdediging het hospitaal-aanhouding gevra weens sy selfdoodneigings. Kommissaris Nthabiseng Sepanya-Mogale veroordeel die aanval en vra ernstige straf. Sy het aan eNCA gesê dit is gemeenskappe se verantwoordelikheid om sulke gevalle aan te meld:
# Die leier van ‘n Keniaanse oordeelsdag-kultus se hofsaak het vandag begin op aanklagte van terrorisme oor die dood van meer as 400 van sy volgelinge, in ‘n makabere saak wat die wêreld geskok het. Die selfverklaarde pastoor, Paul Nthenge Mackenzie, het in Mombasa in die hof verskyn saam met 94 mede-aangeklaagdes. Joernaliste moes die hofsaal verlaat kort nadat die verrigtinge begin het sodat ‘n beskermde getuie kon getuig. Mackenzie het sy volgelinge na bewering aangehits om hulself tot die dood uit te honger sodat hulle Jesus kan ontmoet.
# Rugby: Die Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê hy is verlig hulle het Ierland die eerste keer onder sy aanvoering ondergekry. Die Bokke het Suid-Afrika tevrede gestel met ‘n oorwinning van 27-20 op Loftus Versfeld na drie nederlae teen die Iere. Die twee spanne pak mekaar weer Saterdag in Durban en Ierland sal alles in die stryd werp om die reeks gelykop te maak, terwyl Suid-Afrika vasberade is om skoonskip te maak. Erasmus waarsku die besoekers is oorgehaal om op Kingspark te wen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-10-sent teen die dollar, 19-rand-63-sent teen die euro en 23-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-349-dollar-54-sent. Die prys van goud is twee-duisend-375-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….